Solidariteit ondersteun Cosatu se protes oor e-tolstelsel

Die Solidariteit Beweging sê sy 17 instellings, waaronder Helpende Hand en AfriForum, ondersteun die vakverbond Cosatu se protesaksie teen die komende Gautengse e-tolstelsel.

Solidariteit het ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om môre hulle stem teen die nuwe e-tolstelsel dik te maak. Solidariteit sê hy was egter nie deel van Cosatu se artikel 77-aansoek by Nedlac nie en kan sy lede dus nie aan ʼn beskermde staking deelneem nie. Solidariteit het sy lede gevra om op ander kreatiewe maniere hulle protes aan te teken. Solidariteit sê egter dat hy nie die staking rondom die kwessie van arbeidsmakelaars ondersteun nie. Intussen het Cosatu aangekondig dat die ANC-jeugliga ook aan die staking sal deelneem. Cosatu sê dit is ʼn beskermde staking aangesien die sertifikaat wat deur Nedlac uitgereik is elke Suid-Afrikaanse werker beskerm, al is hulle nie deel van Cosatu nie. Die vakverbond verwag dat minstens 100 000 werkers aan die staking sal deelneem. Die hoofstaking sal in die Johannesburgse middestad gehou word waar optoggangers vanaf 8:30 Woensdagoggend bymekaar sal begin kom. Die optog sal om 10:00 begin wanneer die eerste memorandum by die departement van arbeid in Randfontein oorhandig sal word. Die optog sal dan na die premier van Gauteng se kantoor en die departement van vervoer beweeg om memorandums te oorhandig. Daar sal landwyd 34 optogte plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.