Solidariteit ontevrede met Eskom-aanbod

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het Eskom se salarisaanbod van 5,6% as teleurstellend beskryf en verder sy kommer uitgespreek oor die elektrisiteitsreus se voorstel vir ʼn vyfjaar-ooreenkoms. Eskom het intussen die saak na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys nadat onderhandelinge volgens die maatskappy op ʼn dooiepunt uitgeloop het, hoewel vakbonde verder wou onderhandel.

Deon Reyneke, hoof van Solidariteit se Metaal-, Ingenieurs- en Elektriese Bedryf, sê vakbonde het versoek dat die loononderhandelinge voortgesit word, aangesien dit volgens hulle nog nie ʼn dooiepunt bereik het nie. Eskom het egter die versoek van die hand gewys en die saak na die KVBA verwys. “Dit is kommerwekkend dat Eskom se aanbod steeds minder as die huidige inflasiekoers is. Omdat die VPI-inflasiekoers teen die einde van die jaar moontlik kan styg en skerp stygings in brandstof- en voedselpryse plaasgevind het, het Solidariteit geen ander keuse gehad as om Eskom se loonaanbod van ʼn 5,6%-verhoging van die hand te wys nie,” verduidelik Reyneke.

Eskom skryf sy karige salarisaanbod toe aan die feit dat Nersa die elektrisiteitsreus se aansoek vir ’n 16%-tariefverhoging verwerp en slegs 8% toegestaan het. Solidariteit eis ʼn 12%-loonverhoging. “Ons is meer as bereid om met Eskom te onderhandel en sal enige billike aanbod van die werkgewer aan ons lede voorlê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.