Solidariteit ontstoke oor Hulley-aanstelling

Die aanstelling van Michael Hulley, ʼn direkteur van die gelikwideerde Aurora Empowerment Systems, as deeltydse regsadviseur vir die presidensie is ʼn klap in die gesig vir sowat 5 300 voormalige Aurora-werknemers en hulle gesinne wat danksy Hulley en die ander Aurora-direkteure se toedoen in armoede gedompel is, het die vakbond Solidariteit vandag gesê. Solidariteit meen voorts dat die aanstelling totaal onsensitief is en ʼn gebrek aan oordeel weerspieël. Dit bevestig ook Solidariteit se aanname dat die Aurora-direkteure skynbaar politieke vrywaring geniet.

Die aankondiging van Hulley se aanstelling volg skaars ʼn dag nadat hy in ʼn ondervraging ingevolge artikel 417 en 418 van die Maatskappywet rakende Pamodzi Gold se insolvensie voor die meester van die Noord-Gautengse hooggeregshof getuig het.

Volgens Gideon du Plessis, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het Aurora in die tyd toe hulle die Pamodzi-myne bestuur het, verskeie mynbou- en arbeidswette oortree en hulle aan ernstige vergrype van hulle werknemers se basiese menseregte skuldig gemaak. “Dít, terwyl Hulley, wat uit die aard van sy beroep verantwoordelik is om te sorg dat wette gehoorsaam en menseregte gerespekteer word, toegekyk het,” meen Du Plessis.

Die vakbond het ʼn beroep op die portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne gedoen om Solidariteit se eis, dat Hulley se aanstelling onmiddellik herroep word, te steun. Die komitee het verlede Vrydag aanbeveel dat al die Aurora-direkteure strafregtelik vervolg moet word.

*Khulubuse Zuma sal na verwagting vandag ingevolge artikel 417 en 418 van die Maatskappywet voor die meester van die Noord-Gautengse hooggeregshof oor Pamodzi Gold se insolvensie getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.