Solidariteit pak DKD weer in hof

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit pak die departement van korrektiewe dienste (DKD) Vrydag weer in die arbeidshof in Kaapstad oor die DKD se verontagsaming van die hof se vroeëre uitspraak dat nie net die nasionale rassedemografie in ag geneem kan word by die toepassing van regstellende aksie nie. Die DKD voer aan dat die uitspraak nie toegepas hoef te word nie aangesien hy appèl daarteen aanteken.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die vakbond sal aansoek doen vir tussentydse verligting waarvolgens die DKD gedwing sal word om aan die hofbevel gehoor te gee totdat die saak in die arbeidsappèlhof aangehoor word. “Die DKD het aanvanklik aangedui dat hy die uitspraak respekteer en sy regstellendeaksiebeleid ingevolge die wet sal hersien, soos wat die hof beslis het. Dit blyk egter dat die DKD vasbeslote is om steeds die nasionale rassedemografie te gebruik en om sodoende sy verpligtinge ten opsigte van die hofbevel te ontduik.

Hoewel Solidariteit die DKD versoek het om, hangende die appèl, nie die poste waarvoor die applikante in die saak aansoek gedoen het, te adverteer nie, het die DKD te kenne gegee dat hy wel van die poste gaan adverteer. Ons sal dus seker maak dat die DKD gehoor gee aan die hofbevel ten einde toe te sien dat die DKD nie verder diskrimineer nie.”

Verlof tot appèl is reeds aan beide partye toegestaan.

Hofverrigtinge begin om 10:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.