Solidariteit pak nou bloedbank oor rasuitsluiting

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit.

Solidariteit en die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANB) se groot hofstryd oor die absolute verbod op aansoeke van sekere rasgroepe vir vakante poste begin Donderdag in die Johannesburgse arbeidshof.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, sê die hofsaak het reeds op ʼn omstrede noot begin. “Solidariteit het die SANB vroeër versoek om die rassedemografie van hul bloedskenkers bekend te maak, maar hulle het geweier om dit te doen. Solidariteit het verneem dat sowat 75% van die bloeddiens se skenkers wit is. Ons glo dat die SANB die demografie van hul bloedskenkers in ag moet neem wanneer hulle personeelaanstellings doen.”

Hermann sê die vakbond tree namens Theodore Reyneke en Sanet Schönfeldt, wat vir onderskeidelik 28 en 24 jaar in diens van die SANB is, op. “Die bloeddiens het verlede jaar met ’n plekmaakstrategie begin en skeidingspakkette vir wit werknemers bo 55 aangebied. Sodoende is 14 vakatures geskep. Die vakante poste is hierna geadverteer en die advertensie het aangedui dat slegs swart Suid-Afrikaners daarvoor kon aansoek doen. Solidariteit sal die hof versoek om toe te gee dat daar onbillik teen Reyneke en Schönfeldt gediskrimineer is op grond van ras en dat die SANB verhoed moet word om in die toekoms soortgelyke praktyke toe te pas.”

Hermann sê die beginsel waarvolgens mense belet word om vir poste aansoek te doen as hulle nie ’n bepaalde ras is nie, moet in die hof getoets word. “Indien ons met hierdie saak slaag om ’n presedent te skep, sal dit van toepassing wees op alle maatskappye wat hulle aan hierdie praktyk skuldig maak. Die praktyk kom neer op ’n kwotastelsel, wat nie deur die Wet op Gelyke Indiensneming toegelaat word nie. ’n Absolute beperking mag nie op die bevordering van wit mense geplaas word nie.”

Lees ook:
Regstellende aksie: DKD sal sy beleid hersien
Solidariteit wen regstelsaak teen DKD

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

a goosen ·

Wat? het ons nog nie genoeg van ons Bloed gestort vir ons lieflike land nie, en nou gee ons dit verniet weg vir n beskuitjie??

Johan Kruger ·

Ek het 78 eenhede bloed geskenk. Tot hulle met die regstellende aksie begin het. Nou moet hulle maar hulle skenkers ook kry om die regstellende aksie toe te pas.

Gunter ·

As ‘n wit bloedskenker staan ek agter Solidariteit.
Hulle [Solidariteit] moet eintlik ondersteuning vra van huidige bloedskenkers deur ‘n versoek te stel aan ons vir ons name. Ek sou geen probleem hê om my naam via hulle webblad te gee nie.

H J Bester ·

Dankie Solidariteit vir julle onvermoeide ywer vir ‘n goeie saak naamlik die bevegting van die diskriminasie teen wittes. Dis vir sulke optredes dat ons ons beursies sal oopmaak.

PIET ·

DAN HET EK NOU KLAAR GESKENK, HULLE SAL MY NIE WEER SIEN NIE, DIESELFDE MET WOOLWORTHS. NET REGS VAN DIE KAP VAN DIE BYL, SO MOET ONS OOK SAAM STAAN EN SHELL BEGIN BOIKOT WANT HULLE IS DIE GTROOT DRYFVEER AGTER DIE FRACKING IN DIE KAROO. STOP OM BY HULLE BRANDSTOF EN OLIES TE KOOP.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.