Solidariteit petisioneer parlement vir debat oor regstelaksie

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het Donderdag vir Max Sisulu, speaker van die parlement, namens meer as 250 000 Suid-Afrikaners, insluitend die vakbond se lede, versoek om ʼn parlementêre debat te hou oor die huidige toepassing van regstellende aksie. Solidariteit gebruik sy reg ingevolge artikels 56(d) en 69(d) van die Grondwet om die parlement te petisioneer.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, sê die vakbond het ook sy manifes oor regstellende aksie aan die speaker oorhandig en ʼn afskrif daarvan en die petisie teen die deur van die parlement vasgeplak. “Ons het namens die Solidariteit Beweging se meer as 220 000 lede en ʼn verdere

30 000 lede van die publiek vir die speaker gesê die suiwer rassebenaderingsaksie moet tot ʼn einde kom. Die onlangse uitspraak in Solidariteit se saak teen die departement van korrektiewe dienste het bevestig dat die basiese toepassing van regstellende aksie nie in lyn met wetgewing is nie.”

Hermann sê Solidariteit glo dat die oplossing vir regstellende aksie nie net in die howe gesetel is nie en dat die werklike oplossing deur sosiale dialoog gevind moet word. “Solidariteit vertrou dat die debat wat in die hofsale gevoer word nou na ʼn nasionale debat sal oorspoel en dat die uitkoms ʼn nuwe nasionale konsensus oor regstellende aksie sal wees. Die beste plek om so ’n debat te voer, is in die parlement. Die regering se benadering het in ʼn wiskundige rassebenadering ontwikkel waarin mense met syfers vervang is. Dié benadering het niks meer met regstelling te doen nie, maar alles met ras. Suid-Afrikaners en veral sakelui aanvaar te maklik wat die regering sê as die enigste manier van doen. Wat ons in Suid-Afrika nodig het, is ’n behoorlike debat oor idees.

Solidariteit het reeds vroeër ʼn parlementêre debat oor regstellende aksie versoek. Stone Sizani, ANC-hoofsweep, het by monde van sy woordvoerder, Moloto Mothapo, gesê die parlement debatteer nie kwessies volgens die grille en giere van drukgroepe nie. Solidariteit het toe besluit om petisies van die publiek af kry om die ANC te wys dat die behoefte aan ʼn parlementêre debat oor die huidige toepassing van regstellende aksie nie net ʼn gier en ʼn gril is nie. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

Hoeveel historiese regverdigheid daar ookal mag wees vir regstellende aksie, bly dit rassisties en ‘n growwe vorm van diskriminasie. Die mees kommerwekkende is dat daar nooit ‘n einde aan sal kom nie want die ANC-regering sal dit nie maklik ophef nie – tensy ‘n hof bevind dat dit ongrondwetlik is.

Moontlik beweeg ons tog nader na die punt dat regstellende aksie as ongrondwetlik bewys kan word want die ANC-regering is al meer beneig om die betrokke wet erg te verkrag soos met die onlangse Kaapse hofuitspraak uitgewys is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.