Solidariteit: ‘Regeringsinmenging dra by tot Telkom-krisis’

Die telekommunikasiereus Telkom se finansiële probleme is die direkte gevolg van die regering se noue betrokkenheid en inmenging by die semi-staatsinstelling, het die vakbond Solidariteit gesê.

Volgens Solidariteit kom Telkom se aanbod van vrywillige skeidingspakkette of vroeë aftrede-pakkette aan sy hele werksmag van 21 000 werknemers op emosionele en finansiële afpersing neer. Telkom het reeds bevestig dat ’n formele afleggingsproses waarskynlik sal volg indien die vrywillige proses nie die gewenste kostebesparing tot gevolg het nie. Moira-Marie Kloppers, woordvoerder van Solidariteit, sê dit is onregverdig dat Telkom se werknemers gestraf moet word vir swak bestuur wat deur regeringsinmenging veroorsaak word. “Die kabinet het verlede jaar Telkom se beplande multi-miljardrand-transaksie met die Suid-Koreaanse KT Corporation gekelder en Solidariteit het destyds gewaarsku dat dit daartoe kan lei dat Telkom koste weens ʼn gebrek aan kapitaal sal moet besnoei, wat tot afleggings van duisende werknemers kan lei.”

Kloppers sê Telkom se aanbod van vrywillige skeidingspakkette of vroeë aftrede-pakkette kom op emosionele en finansiële afpersing neer aangesien die telekommunikasiereus dit duidelik maak dat dit die laaste keer is dat “verhoogde” pakkette aan werknemers aangebied sal word. “Telkom het dit duidelik aan werknemers gestel dat hoe langer hulle neem om vir ʼn pakket aansoek te doen, hoe minder aanloklik dit sal wees. Telkom plaas werknemers in die situasie waar hulle moet kies of hulle vir ʼn pakket wil aansoek doen en of hulle die risiko wil loop dat hulle moontlik later afgelê gaan word en dan moontlik met ʼn aansienlik laer pakket tevrede sal moet wees. Daar heers ʼn klimaat van onsekerheid onder Telkom se werknemers weens die maatskappy se finansiële verknorsing en hulle word nou gedwing om moeilike besluite te neem wat hul toekoms gaan beïnvloed.”

Intussen is daar ook al breedvoerig berig oor Telkom se spandabelrigheid en het die telekommunikasiereus byvoorbeeld glo ʼn borgskap van R12 miljoen aan die regeringsgesinde koerant, The New Age, gegee om ’n reeks media-ontbyte aan te bied. Dina Pule, die minister van kommunikasie, moet intussen bontstaan oor beweerde ongerymdhede rondom die finansiering van ’n spoggerige IKT-indaba wat die departement in Kaapstad gehou het. “Dit is verregaande dat Telkom se werknemers nou moontlik gaan boet omdat Telkom ʼn politieke speelbal geword het. Die regering en spesifiek Pule moet verantwoording doen vir hul oningeligte inmenging en moet ingryp om alternatiewe vir die afleggings by Telkom te kry,” sê Kloppers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.