Solidariteit se hofsaak oor rasuitsluiting teen bloeddiens begin

Die vakbond Solidariteit het vandag hofstukke by die arbeidshof in Johannesburg ingedien waarin die hof versoek word om die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANB) te verhoed om ’n absolute verbod op aansoeke van sekere rasgroepe vir vakante poste te plaas. Solidariteit tree op namens twee van sy lede wat weens hul velkleur verhoed is om aansoek te doen vir poste.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Arbeidshofafdeling, sê die vakbond tree namens Theodore Reyneke en Sanet Schönfeldt, wat onderskeidelik 27 en 23 jaar by die SANB werksaam is, op. “Die bloeddiens het in Julie vanjaar met ’n plekmaakstrategie begin en het skeidingspakkette vir wit werknemers bo 55 aangebied. Sodoende is 14 vakatures geskep. Die vakante poste is hierna geadverteer en die advertensie het aangedui dat slegs swart mense daarvoor kon aansoek doen. Solidariteit versoek die hof om toe te gee dat daar onbillik teen Reyneke en Schönfeldt gediskrimineer is op grond van ras en dat die SANB verhoed moet word om in die toekoms soortgelyke praktyke toe te pas.”

Groenewald sê die beginsel waarvolgens mense belet word om vir poste aansoek te doen as hulle nie ’n bepaalde ras is nie, moet in die hof getoets word. “Indien ons met hierdie saak slaag om ’n presedent te skep, sal dit van toepassing wees op alle maatskappye wat hulle aan hierdie praktyk skuldig maak. Die praktyk kom neer op ’n kwotastelsel, wat nie deur die Wet op Gelyke Indiensneming toegelaat word nie. ’n Absolute beperking mag nie op die bevordering van wit mense geplaas word nie.”

Solidariteit het in September vanjaar aansoek gedoen om ’n dringende interdik om die SANB te keer om voort te gaan met die vul van poste terwyl die hofsaak aan die gang is. Die arbeidshof het egter beslis dat die saak nie een van dringendheid is nie en die aansoek is geweier.

Die hofsaak volg op die vakbond se veldtog teen Woolworths nadat dié groep advertensies geplaas het vir poste wat slegs vir swart Afrikane oop was. Werknemers van die SANB het na aanleiding hiervan met Solidariteit in verbinding getree omdat die bloeddiens ook poste geadverteer het wat slegs oop was vir swart Suid-Afrikaners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.