Solidariteit se “Stop Rob”-veldtog suksesvol

Foto: Reint Dykema

Die departement van handel en nywerheid het Woensdag sy nuwe voorgestelde Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging-kodes (BSEB-kodes) vir maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingsbydraes teruggetrek.

Meer as 11 000 protesboodskappe teen dié kodes is binne 11 dae deur Solidariteit se StopRob-veldtog ingesamel. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het die publiek, wat in groot getalle aan die veldtog deelgeneem het, bedank. “Ons sou die 11 000 besware volgende week aan die departement van handel en nywerheid oorhandig het. Die terugtrekking van die BSEB-kodes vir maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingsbydraes wys dat burgerlike verset werk. Suid-Afrikaanse burgers besef nie altyd die krag van burgerlike demokrasie nie,” het Hermann gesê.

Indien die omstrede nuwe bemagtigingskodes vir maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingsbydraes ingestel sou word, sou maatskappye se ontwikkelingsbydraes net erken kon word indien 100% van die bevoordeeldes swart was. Nierassige welsynsorganisasies sou dus wesenlik benadeel word. Die terugtrekking van die kodes beteken dat die maatskaplik-ekonomiese afdeling van die kodes vir eers onveranderd sal bly.

“Ons is verheug oor die ontrekking van die voorgestelde kodes. Die meer as 11 000 besware teen die bemagtigskodes het ʼn deurslaggewende rol gespeel om die implementering van hierdie ondeurdagte maatskaplike ingenieurswese te stop,” het Hermann bygevoeg. Hy sê die feit dat die voorgestelde kodes reeds oor die kabinetstafel was voor dit teruggetrek is, wys ʼn ernstige vinger na die Kabinet.

Solidariteit het intussen ook reeds ʼn senior regsopinie ingewin wat aantoon dat die voorgestelde kodes ongrondwetlik is. “Ons sou beslis regstappe geneem het indien die departement nie die relevante dele van die kodes teruggetrek het nie,” het Hermann gesê.

Volgens Hermann was die maatskaplik-ekonomiese afdeling van die kodes 100% verkeerd. Nie net behoeftige wit mense sou deur die bemagtigingskodes benadeel word nie, maar ook derduisende behoeftige swart mense. Indien net 1% van die kindertjies in ’n kinderhuis wit was, sou die 99%- swart kindertjies ook benadeel word. Die kodes het enige vorm van integrasie ontmoedig. “Daar is geen regverdiging om teen behoeftige mense op grond van ras te diskrimineer nie. Hoe kan jy teen ʼn arm kleuter, ʼn persoon met kanker, ʼn kinderhuiskind of ʼn behoeftige bejaarde op grond van velkleur diskrimineer? Dit is onaanvaarbaar,” sê Hermann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kids 4 Christ Ministries ·

Prys die Here, ons doen soveel welsyns werk onder alle nasies sonder vooroordeel en ons sou ons erg gestrem gewees het in die werk wat ons doen. ‘n Kind is ‘n kind is ‘n kind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.