Solidariteit: ‘SEB is nadelig vir alle Suid-Afrikaners’

Die vakbond Solidariteit het vandag tydens ʼn voorlegging aan die parlement se portefeuljekomitee oor handel en nywerheid aangevoer dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) nadelig is vir alle Suid-Afrikaners insluitend die oorgrote meerderheid swart mense.

Solidariteit het om die rede aanbeveel dat die Wysigingswetsontwerp op Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging van 2012 teruggetrek word. Piet le Roux, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die doel van die wetsontwerp is om die regering in staat te stel om huidige SEB-wetgewing strenger af te dwing. “Die wetsontwerp sal tot gevolg hê dat alle Suid-Afrikaners, insluitend diegene wat veronderstel is om by SEB te baat, benadeel word. Dit sal daartoe lei dat selfs meer hulpbronne aan relatief minder goeie entrepreneurs – swart, bruin, Indiër én wit – verskaf word, entrepreneurs wat nie sonder regeringshulp die mas sou opkom nie. Dit beteken dat minder verbruikersgoedere vir alle Suid-Afrikaners beskikbaar gestel word. Die koste van hierdie projek word dus uiteindelik deur gewone verbruikers, wat nou duurder vir lewensmiddele moet betaal, gedra.”

Volgens Le Roux is dit belangrik om te onthou dat dit nie net minder effektiewe swart entrepreneurs is wat by kunsmatige beleggings kan baat nie, maar juis ook minder effektiewe wit entrepreneurs. “Wit entrepreneurs wat nie in die mark sou slaag nie, maar wat tog daarin slaag om ʼn swart, bruin of Indiër SEB-vennoot te bekom, word ten koste van verbruikers aan die gang gehou.”

Le Roux beklemtoon dat nie alle opkomende entrepreneurs van regeringshulp afhanklik is nie, maar dat SEB die swakker entrepreneurs wel in staat stel om op ʼn kunsmatige en onvolhoubare wyse sake te doen. “Verbruikers in die mark identifiseer deur hul bestedingspatrone die effektiefste entrepreneurs. Die effektiefste entrepreneurs is diegene wat die grootste stroom goedere en dienste op die goedkoopste wyse aan verbruikers kan bied. Beleggers let op hierdie bestedingspatrone en ken op grond daarvan hulpbronne aan entrepreneurs toe. SEB vervang dié verbruikersgeleide toedeling van hulpbronne aan entrepreneurs met ʼn polities geleide proses. Wanneer daar politieke inmenging is, vloei hierdie hulpbronne eerder na die minder effektiewe entrepreneurs en moet verbruikers met duurder en minder goedere en dienste tevrede wees. Ware entrepreneurs is nie van politieke toedeling afhanklik om sukses te behaal nie, maar word deur verbruikers uitgewys deur middel van hul bestedingspatrone.”

Le Roux sê dit is gewone verbruikers en veral arm mense wat onder kunsmatige entrepreneurs ly. “Hoe armer ʼn persoon is, hoe harder word hy of sy deur hoër pryse getref. Die enigste wesenlike voordeel van SEB gaan aan die sogenaamde swart elite en daardie wit persone met die regte konneksies ten koste van die oorgrote meerderheid verbruikers in Suid-Afrika insluitend swart, bruin en Indiër-mense.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Swart Ekonomiese Bemagtiging is, net Regstellende Aksie, net nog ‘n verdere kunsmatige struktuur wat geskep is om sogenaamde voorheen benadeeldes te bevoordeel.

Beide hierdie kunsmatige strukture, het een gemene deler en dit is dat dit die sogenaamde voorheen benadeeldes, eintlik gruwwelik benadeel om die volgnde rede:

Regstellende Aksie het te veel mense in diens geplaas in posisies waarvoor hulle nie genoegsaam opgelei is of geslyp is nie. Dit het negatiewe produktiwiteit en uitset tot gevolg – beter bekend as onbevoegheid. Verder hou regstellende aksie die gevolg in dat enige agtergeblewene hom nie in die besonder te hoef beywer vir die bes moontlike en hoogs moontlike kwalifikasie nie want werk is byvoorbaat “gereserveer”,

Wat Swart Ekonomiese Bemagtiging aanbetref, het die enige kandidaat byvoorbaat reeds die voordeel dat hy , as agtergeblewene, “outomaties” kwalifiseer vir hulp van enige aard sonder noemenswaardige bewyslas van bevoegdheid of bekwaamheid. Ook in hierdie geval lei produktiwiteit en kwaliteit daaronder tot die nadeel van die verbruikerspubliek buiten die risiko van moontlike enorme geldelike verliese.

Hoop van hart Solidariteit slaag met hul poging om die regering te keer om SEB nog verder af te dwing met die swak en nadelige gevolge daarvan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.