Solidariteit slaan nog ’n ses in die stryd teen regstellende aksie

Die arbeidshof het gister in Solidariteit se guns beslis en beveel dat Denel Dynamics ’n lid van die vakbond terugwerkend vanaf 10 Februarie 2011 permanent moet aanstel ná 24 maande diens as ’n kontrakwerknemer.

Solidariteit het ’n waarskuwing aan maatskappye gerig om op te hou om wit werknemers permanente indiensname te weier terwyl hulle wag om regstellendeaksie-kandidate aan te stel.

Ansie van Niekerk is tussen 9 Februarie 2009 en 28 Februarie 2011 sewe keer in aaneenlopende vastetermynkontrakte aangestel. Ná 24 maande diens as ’n kontrakwerknemer in die pos van senior sekretaresse het sy drie keer vir permanente posisies aansoek gedoen. Sy is telkens weens regstellende aksie oor die hoof gesien en is die derde keer nie eers vir ’n onderhoud genooi nie, hoewel sy aan al die vereistes vir die pos voldoen het. Volgens Solidariteit het Denel in die proses teen sy eie indiensnemingsbeleid opgetree. “Denel Dynamics se diensvoorwaardes stel dit duidelik dat werknemers wat langer as 24 maande op ’n kontraktuele basis aangestel is, na dié tydperk permanent aangestel moet word,” sê Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se arbeidshofafdeling. ’n Eksterne kandidaat, ’n swart vrou, is intussen in die pos aangestel, hoewel daar volgens die maatskappy se beleid aan interne kandidate voorkeur gegee moet word. “Hoewel Van Niekerk aan al die vereistes vir die pos voldoen het, is sy suiwer op grond van haar velkleur nie aangestel nie.”

Groenewald sê die aanstelling van wit werknemers op ’n kontraktuele basis ten einde vir regstellendeaksie-kandidate te wag, kom nie net neer op onbillike diskriminasie nie, maar sal ook tot gevolg hê dat die wit werknemers, soos in dié geval, eindelik permanent aangestel moet word. “Regter André van Niekerk het beveel dat Denel Dynamics moet hou by sy diensvoorwaardes rakende tydelike uurlikse werknemers en dat Van Niekerk terugwerkend as senior sekretaresse, of in ’n soortgelyke posisie, aangestel moet word. Denel Dynamics is ook beveel om die koste van die geding te betaal.”

Hierdie is een van meer as 20 sake wat Solidariteit teen staatsdepartemente en semi-staatsinstellings rakende die onbillike toepassing van regstellende aksie ingestel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.