Solidariteit staan SAPD se aansoek om verlof tot appèl in Barnard-saak teen

Dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, praat met die media tydens een van die vakbonde se vorige regstellendeaksiesake in die arbeidshof in Johannesburg.

Dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, praat met die media tydens een van die vakbonde se vorige regstellendeaksiesake in die arbeidshof in Johannesburg.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se regstellendeaksieplan is onregmatig omdat dit raskwotas daarstel wat deur die Wet op Gelyke Indiensneming verbied word, voer die vakbond Solidariteit in sy opponerende stukke in die konstitusionele hof aan. Die SAPD het aansoek gedoen om verlof om te appelleer teen die appèlhof in Bloemfontein se uitspraak wat ten gunste van lt.kol. Renate Barnard en Solidariteit was. Die vakbond staan die aansoek teen.

Dirk Groenewald, hoof van die Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê daar is geen gronde in die SAPD se aansoek wat die konstitusionele hof tot ʼn ander bevinding sal laat kom as die uitspraak van die appèlhof nie. “Die SAPD se aansoek is ʼn siniese stap om Barnard die geregtigheid wat haar na ʼn agt jaar lange hofstryd toekom, verder te ontneem. Ons vertrou dat die konstitusionele hof die appèlhof se uitspraak dat gelykheid nie deur die meganiese toepassing van formules en numeriese teikens bereik kan word nie, sal bekragtig. Die SAPD se regstellendeaksieplan en sy toepassing daarvan is rassisties en seksisties.”

Groenewald sê die nasionale kommissaris het Barnard se bevordering uitsluitlik geweier omdat dit die raskwotas op haar posvlak sou skeeftrek. “Die appèlhof sê in sy uitspraak dat Barnard bevorder sou word as dit nie vir die nasionale kommissaris se onregmatige optrede was nie. Die polisie probeer die appèlhof se uitspraak op ongegronde regspunte beveg.”

Die appèlhof in Bloemfontein het in November ten gunste van Solidariteit en Barnard beslis. Die SAPD is gelas om die koste verbonde aan gedingvoering in die arbeidshof, arbeidsappèlhof en die hoogste hof van appèl te betaal, sowel as vergoeding aan Barnard.

Barnard se regstellendeaksiestryd het reeds in 2005 begin. Sy het twee keer vir dieselfde pos aansoek gedoen. Sy is telkens as die beste kandidaat aangewys en die paneel onderhoudvoerders het haar aanstelling aanbeveel. Die pos is egter vakant gelaat. Die pos is ’n derde keer geadverteer, maar is geskrap nadat sy weer daarvoor aansoek gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.