Cell C-selfmoord: Solidariteit vra maatskappye om meer menslik te wees

Familielede van André Ankiewicz het Donderdag gesê dit is teleurstellend dat die meeste maatskappye nie so toegewyd is aan hulle werknemers soos werkers aan hulle is nie. Ankiewicz , ’n broodwinner en werknemer van Cell C, het verlede week selfmoord gepleeg nadat hy ’n kennisgewing ontvang het dat hy moontlik afgelê gaan word. Cell C ontken egter dat die selfmoord verband hou met die afleggings.

Sy familie het tydens ʼn ontbytgesprek by die vakbond Solidariteit se kantoor in Centurion oor die uitwerking van afleggings op werknemers gepraat.

Solidariteit, van wie Ankiewicz ʼn lid was, het tydens die geleentheid ’n beroep op groot maatskappye gedoen om hul kliniese benadering tot afleggings te stuit weens die trauma waartoe dit aanleiding gee.

Volgens Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, kan die trauma van afleggings vergelyk word met die trauma wat ervaar word tydens die afsterwe van ’n geliefde. “Die probleem is dat die ondersteuningstrukture by afleggings meestal swakker is. Die element van vernedering, ’n gevoel van mislukking, wanhoop, rigtingloosheid, bitterheid, skande, leegheid en vrees is ook verswarend in die trauma wat by afleggings beleef word.” Hermann het gesê werknemers beleef die verlies aan werk so traumaties, aangesien dit deel is van hul eie en sosiale identiteit.

“André Ankiewicz se selfmoord het getoon watter ekstreme gevolge so ’n afleggingsproses kan hê. Hy was in die midde van onsekerheid en het in daardie toestand van trauma geen hoop gesien nie. Mag sy dood help dat die kliniese benadering van groot maatskappye tot afleggings gestuit word,” het Hermann gesê.

Solidariteit het intussen ook aangekondig dat hy sal voortgaan om sy uitgebreide maatskaplike plan aan groot maatskappye voor te lê. Dit is ’n vier-stap-aksieplan bestaande uit riglyne en metodes om afleggings te minimaliseer sowel as om alle moontlikhede te ondersoek om dit af te weer. Dit is ook daarop gemik om die effek van afleggings op werknemers te minimaliseer. Solidariteit se maatskaplike plan is op die konsultasieproses gerig en stel ook ’n wetlike raamwerk en voorstelle vir doeltreffende kommunikasie tydens die proses voor om arbeidsverhoudinge te bevorder.

* Die familie en Hermann se volle toesprake kan gelees word op www.solidariteitmedia.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.