Solidariteit takel Korrektiewe Dienste oor regstellende aksie

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn omvattende regstrategie teen die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) se regstellendeaksie-plan aangekondig. Meer as 30 individuele sake kan gekonsolideer word, wat hierdie saak die grootste regstellendeaksie-saak nog in Suid-Afrika sal maak.

Solidariteit gaan ook gelyklopend met die individuele sake met ʼn regsproses begin om die regstellendeaksie-plan van die DKD ter syde te stel, aangesien die plan nie in lyn is met die Grondwet van Suid-Afrika en die Wet op Gelyke Indiensneming nie. Volgens Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, is die bron van die kwaad nie individuele gevalle waar regstellende aksie buite die beleid toegepas is nie, maar die beleid self. Solidariteit het reeds die sake van vier bruin en een wit werknemer van die DKD gekonsolideer, wat nou na die arbeidshof verwys word. Die werknemers is Geo-nita Baartman, Linda-Jean Fortuin, André Jonkers, Christopher February en Pieter Dawids. In al hierdie gevalle was die werknemers die beste kandidate vir die poste waarvoor hulle aansoek gedoen het, maar is hulle oor die hoof gesien weens die DKD se beleid van absolute nasionale demografiese verteenwoordiging. Solidariteit voer nou ook met ʼn verdere 26 werknemers gesprekke.

Volgens die DKD se regstellendeaksie-plan moet die nasionale demografie in elke werksplek, selfs op provinsiale en streeksvlak, weerspieël word. In die Wes-Kaap is ongeveer 51% van die bevolking bruin Suid-Afrikaners, waar daar nasionaal slegs ongeveer 8,8% is. Die implikasie van die DKD se strategie is dat daar in ʼn provinsie soos die Wes-Kaap te veel bruin Suid-Afrikaners is. In die DKD se strewe om die nasionale demografie te weerspieël, word bruin en wit werknemers by bevorderings en aanstellings oor die hoof gesien. Verlede jaar het ʼn herrie losgebars oor Jimmy Manyi, die destydse direkteur-generaal van Arbeid en huidige kabinetswoordvoerder, se uitspraak dat daar ʼn ooraanbod van bruin Suid-Afrikaners in die Wes-Kaap is en dat hulle oor Suid-Afrika heen moet versprei. Die video van sy uitlatings kan gesien word by www.solidariteitmedia.co.za.

Die DKD se beleid is Jimmy Manyi se uitspraak in praktyk. Indien die nasionale demografie op die Wes-Kaap toegepas word, is daar soos Manyi dit stel, “ʼn ooraanbod” van bruin DKD-werknemers in die Wes-Kaap. Mnr. Trevor Manuel het in ʼn ope brief gesê dat Manyi se uitsprake nie strook met die letter en gees van die Grondwet nie. Volgens Manuel is Manyi se uitsprake “unconstitutional and morally reprehensible”. Manuel skryf verder in sy brief: “I want to put it to you that these statements would make you a racist in the mould of HF Verwoerd, I want to put it to you that you have the same mind that operated under apartheid … I have a sense that your racism has infiltrated the highest echelons of government.” (Die volledige brief kan gelees word op www.solidariteitmedia.co.za)

“Mnr. Manuel is reg as hy sê dat Manyi se rassisme die hoogste range van die regering geïnfiltreer het. Dit het, soos by die DKD, die beleid van die regering geword. Ons glo ook dat hierdie idees van Manyi en die beleid van die DKD teen die letter en gees van die Grondwet is,” sê Hermann. “Ons vat nie regstellende aksie hof toe nie, maar die beleid van absolute verteenwoordiging. Dit is ʼn wiskundige benadering tot regstellende aksie waar mense bloot syfers word. Hierdie beleid het niks meer met regstel te doen nie, maar alles met ras. In die lig van Manuel se sterk standpunt teen hierdie vorm van regstellende aksie en sy verbintenis om die Manyi-idees te beveg, nooi ons hom uit om homself tot die saak te verbind en saam te veg om hierdie metode van regstellende aksie te stop,” het Hermann gesê. (Die volledige teks van Dirk Hermann se toespraak by die mediakonferensie is verkrygbaar by www.solidariteitmedia.co.za)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.