Solidariteit: ‘Tesourie moet afleggings by Ontwikkelingsbank stop’

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn skriftelike versoek aan Pravin Gordhan, minister van finansies, gerig waarin geëis word dat die nasionale tesourie, die aandeelhouer van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (OBSA), moet toesien dat afleggings by dié bank gestaak word en sy huis in orde moet kry.

Volgens Solidariteit wil OBSA teen einde Maart reeds sowat die helfte van sy werknemers aflê, terwyl daar in die tesourie se begroting aangedui word dat die getal werknemers by die bank oor die volgende drie jaar konstant sal bly. Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê dit is kommerwekkend dat die tesourie skynbaar nie weet wat by OBSA aan die gang is nie. “Volgens die tesourie se begroting het die bank 839 werknemers op 30 September 2012 gehad en is R7,9 miljard oor die volgende drie jaar aan dié staatsinstelling toegeken. Daar word ook aangevoer dat die aantal poste oor die mediumtermyn konstant gaan bly. Solidariteit is egter tans betrokke by ʼn artikel 189A-afleggingsproses by OBSA. Volgens amptelike dokumente wat OBSA aan die vakbond verskaf het, was daar 811 werknemers by dié bank op 30 September 2012 en is daar tans slegs 612 werknemers. OBSA wil dié getal teen einde Maart tot 443 werknemers verminder. Die vergoeding van werknemers maak egter net 12% van OBSA se totale uitgawes uit. OBSA voer aan dat die afleggings ten doel het om koste te bespaar, maar aangesien die vergoeding van werknemers slegs ’n klein deel van OBSA se uitgawes uitmaak, sal die besnyding daarvan nie ʼn wesenlike verskil maak nie.”

Kruger sê die gevolgtrekkings wat hieruit gemaak kan word, is dat die tesourie die publiek mislei het in die begroting, of dat OBSA nie oop kaarte speel met sy aandeelhouer nie. “Verskeie hooggeplaaste werknemers in OBSA het hulself tydens afleggingskonsultasies van die inligting wat in die nasionale begroting oor OBSA vervat is, gedistansieer. Die vraag ontstaan of daar enige substantiewe redes vir die herstrukturering bestaan gegewe die inhoud van die begroting. Dit blyk dat OBSA uit eie inisiatief optree en daar is dus ʼn dringende behoefte aan leierskap van die tesourie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.