Solidariteit: ‘Trek BSEB-kodes in geheel terug, begin proses oor’

Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het vandag geëis dat die voorgestelde nuwe kodes vir breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging (BSEB-kodes) in geheel teruggetrek word.

Vandag is die laaste dag waarop kommentaar op die BSEB-kodes gelewer kan word. Solidariteit het nogtans as voorsorgmaatreël ’n kritiese dokument as kommentaar op die voorgestelde kodes ingehandig. Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê die vakbond meen dat die kodes uit die staanspoor onsamehangend was, wat talle vrae oor die toepassing daarvan laat ontstaan het. “Die departement van handel en nywerheid se besluit verlede week om die veranderinge aan die BSEB-kodes vir maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingsbydraes terug te trek, getuig daarvan dat die voorgestelde kodes ondeurdag was. Solidariteit is van mening dat die voorgestelde kodes in geheel hersien moet word en weer vir kommentaar gepubliseer moet word, aangesien die terugtrek van die voorgestelde breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging (BSEB-kodes) vir maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingsbydraes moontlik implikasies vir die res van die voorgestelde kodes inhou. Daar kan nie van die publiek verwag word om kommentaar te lewer op kodes wat gewysig is terwyl die tydperk vir kommentaar steeds oop was nie.”

Kruger sê Solidariteit se ontleding van die kodes toon dat dit, anders as die departement van handel en nywerheid se mening, in werklikheid nie tot voordeel van breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging sal strek nie en eerder, nog meer as voorheen, slegs ’n swart elite sal bevoordeel. “Die voorgestelde kodes sal ook die administratiewe las op maatskappye eksponensieel verhoog sonder dat enige bykomende welvaart daardeur geskep word.” Die departement van handel en nywerheid het verlede week die voorgestelde nuwe BSEB-kodes vir maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingsbydraes teruggetrek, nadat meer as 11 000 protesboodskappe teen die kodes binne 11 dae deur Solidariteit se StopRob-veldtog ingesamel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.