Solidariteit vergader met Motlanthe oor arbeidsonrus

‘n Afvaardiging van Solidariteit, insluitend Flip Buys die uitvoerende hoof van die vakbond, het Vrydag op uitnodiging met adjunkpresident Kgalema Motlanthe by die Uniegebou oor die arbeidsonrus en gepaardgaande uitdagings in die mynboubedryf vergader.

Solidariteit het van die geleentheid gebruik gemaak om ʼn hoëvlakberaad tussen die regering, vakbonde en sakelui te versoek met die doel om arbeidsverhoudinge te normaliseer en sodoende sakevertroue te herstel. Die vakbond het ook die belangrikheid van regsekerheid oor die beplande wysigings aan arbeidswetgewing tydens die vergadering met Motlanthe beklemtoon. Volgens Buys is dit in landsbelang uiters noodsaaklik dat arbeidsverhoudinge normaliseer, aangesien groei, groter indiensneming en armoedeverligting nie in Suid-Afrika kan plaasvind indien arbeidsverhoudinge voortdurend ʼn soort lae-intensiteit oorlog teen die ekonomie voer nie. “Arbeidsverhoudinge moet op brood-en-botter-kwessies fokus en mag nie in ʼn politieke slagveld ontaard nie. Die bestaansrede van vakbonde is om hulle lede se lewenstandaard en werkslewe te verbeter en nie om hulle lede te misbruik om vir leiers se politieke doelwitte te veg nie,” sê Buys.

Solidariteit verbind homself tot die bevordering van arbeidsvrede, produktiwiteit en ekonomiese groei. Buys sê die vakbond se beleid is om sy lede se regmatige belange binne die raamwerk van wetgewing en formele ooreenkomste met werkgewers te bevorder. “Solidariteit doen ʼn beroep op die regering om toe te sien dat die oppergesag van die reg deur die polisie gehandhaaf word. Die veiligheid van werknemers moet verseker word. Goeie verhoudinge tussen alle belanghebbendes in die arbeidsektor en spesifiek die mynboubedryf is noodsaaklik. Solidariteit is bereid om saam met enige vakbond te werk wat binne die wet funksioneer om goeie arbeidsverhoudinge te bevorder.”

Volgens Buys is ’n goed opgeleide, vreedsame en produktiewe werksmag ’n noodsaaklike voorwaarde vir Suid-Afrika om suksesvol te kan wees. “Beter opleiding en hoër produktiwiteit is die enigste manier om alle Suid-Afrikaners se lewenstandaard volhoubaar te verbeter deur armoede en werkloosheid uit te wis. Dit sal ook tot gevolg hê dat Suid-Afrika by internasionale mededingers kan kers vashou. In kort, die welstand van ’n land se mense word deur die gehalte van die werksmag bepaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.