Solidariteit verteenwoordig nóg kandidate in SAL-saak

Die vakbond Solidariteit het Donderdag aangekondig dat hy reeds tien wit mans verteenwoordig wat vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se kadetprogram aansoek gedoen het maar weens hul velkleur nie suksesvol was nie. Solidariteit wag intussen vir terugvoer van die SAL nadat die vakbond namens die kandidate met ʼn regsproses begin het en die Menseregtekommissie versoek het om as fasiliteerder van ʼn vergadering tussen hom en die SAL op te tree.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het gesê dat die vakbond hoop om die kwessie deur middel van dialoog op te los, maar nie sal huiwer om die saak verder te voer nie. “Die kandidate hoop om op meriete nog deel van die kadetprogram te word voor dit later vanjaar begin. Die proses het onbillike verwagtings geskep en só die groep se reg op waardigheid en gelykheid aangetas.”

Americo Carneiro (28), ʼn geoktrooieerde rekenmeester, is in November verlede jaar genooi om psigometriese toetse af te lê, maar is op 8 Junie vanjaar per e-pos meegedeel dat sy aansoek onsuksesvol was. “Ek was regtig teleurgesteld en kwaad en het my vermoë en vaardigheid bevraagteken. Ek was woedend toe ek gesien het hoeveel kandidate hulle gekies het, maar nie een wit man nie. Dit voel vir my of ons nie eers in ag geneem is nie. Ek weet ek het die aanleg, passie en vaardighede om ʼn vliegtuig te vlieg. Ons was nie die rykste gesin nie, maar my ouers het ons grootgemaak met goeie waardes en het als in hul vermoë gedoen om vir ons ʼn goeie begin te gee. Daar was definitief swart, Indiër en bruin kandidate wat ryker of in die dieselfde bootjie as ek was.”

Jan-Paul Nel (21) sê hy het van vierjarige ouderdom af geweet hy wil ʼn vlieënier word. “Toe het ek gesê ek wil ’n ‘vliegtuigbestuurder’ word. Vlieg is my lewe en ek kan nie dink om enigiets anders te doen nie. Ek het werklik ’n passie daarvoor.” Nel het reeds ʼn vlieglisensie. “Toe ek hoor daar is geen blankes gekeur nie, was ek heel ontsteld, want rassisme is in hierdie proses op blankes toegepas. Nelson Mandela het destyds baklei vir regverdigheid en gelykheid, maar dit is glad nie wat gebeur nie. Ek glo in keuring op grond van kwalifikasies.”

Nelis van Niekerk (23) het ʼn BCom Rekeningkunde-graad en wou ʼn vlieënier word vandat hy tien jaar oud was. “Die tyd wat ek opleiding vir my privaat vlieglisensie ondergaan het, was die beste tyd van my lewe. Ek het net weer besef dat ek gemaak is vir vlieg. Ek wou deel wees van die kadetprogram, omdat vliegopleiding baie duur is en ek het gedink dat die SAL baie goeie opleiding sal gee. Toe ek uiteindelik die e-pos kry wat sê dat my aansoek onsuksesvol was, het ek dit eintlik verwag omdat ek lank niks van hulle gehoor het nie. Voordat ek die e-pos gekry het, het ek steeds gehoop, omdat ek op die kortlys was en gegaan het vir die psigometriese toetse.”

Solidariteit tree op namens Carneiro, Nel, Van Niekerk, Armand Moolman, Christopher James Baden Hall, Daniël Hoffman, Dirk Kotze, J.F. Simonis, Pierre de Klerk en Werner Schultz.

Die publiek kan protesbriewe oor SAL-kwotas deur middel van die webblad, www.stopkwotas.co.za, aan die SAL stuur. ʼn Ander manier om protes aan te teken, is deur die woord “Kwota” na 34388 te SMS. ʼn SMS kos R2 en sal by die protesboodskappe getel word. Die veldtog kan ook op Twitter by #StopSAA gevolg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.