Solidariteit verwelkom Lonmin-skikking, waarsku oor presedent wat geskep is

Stakende mynwerkers by Lonmin se Marikana-myn. Foto: Taurai Maduna/EWN

Die vakbond Solidariteit het die skikking tussen stakende werknemers en Lonmin se bestuur verwelkom, maar gewaarsku dat dit ’n gevaarlike presedent skep en dat onwettige optrede om loonverhogings af te dwing in die toekoms by ander myne kan voorkom.

Gideon Du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê die situasie by Lonmin se Marikana-myn het egter ’n abnormale skikking genoodsaak weens die hoë vlakke van geweld, intimidasie en kriminele optrede. Du Plessis sê ingevolge die skikking sal die totalekostepakket van intreevlak-werknemers van R8 164 na R9 611 verhoog en die totalekostepakket van rotsbooroperateurs met 22%, van R9 063 na R11 078, verhoog word. “Rotsbooroperateurs sal ook ’n maandelikse toelaag van R750 ontvang. ’n Addisionele verhoging van 2% is vir alle kategorie 3- tot 8-werknemers wat op 1 Oktober 2012 hul normale jaarlikse verhoging van tussen 9% en 10% sou ontvang, toegestaan. Alle werknemers wat aan die onbeskermde staking deelgeneem het, sal ook eenmalige vergoeding van R2 000 ontvang, onder voorbehoud dat hulle die aanbod aanvaar en op Donderdag 20 September 2012 terugkeer werk toe.”

Solidariteit het die hoop uitgespreek dat die skikking wat vandag bereik is die intimidasie en geweld by Lonmin tot ’n einde sal bring en orde en stabiliteit by alle Suid-Afrikaanse myne tot gevolg sal hê. “Solidariteit het ’n beroep op Lonmin gedoen om afleggings na afloop van die vyf weke lange onbeskermde staking tot die minimum te beperk en kreatiewe oplossings saam met vakbonde te soek om werksverliese te verhoed of te beperk,” sê Du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.