Solidariteit verwerp Lonmin se loonaanbod

Die vakbond Solidariteit

Die vakbond Solidariteit het Lonmin se openingsloonaanbod van 6% per jaar vir die volgende vier jaar vir vaardige werknemers en 7% vir intreevlakwerknemers verwerp. Volgens Solidariteit strook die aanbod nie met die werklike inflasiedruk wat die vakbond se lede ervaar nie en vergoed dit nie sy lede vir hul produksiebydrae nie. Daarby het Lonmin geen aandag aan Solidariteit se ander substantiewe eise gegee nie.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê die vakbond doen ’n beroep op Lonmin om sy vaardige werknemers heelwat beter te vergoed en van die voorgestelde vierjaarooreenkoms af te sien. “Ons doen ook ’n beroep op ons lede om realistiese loonverwagtinge te hê. Daar moet dus ’n balans tussen ons lede se vergoeding met inagneming van die waarde wat hulle toevoeg aan die een kant en die volhoubaarheid van die maatskappy en die platinumbedryf aan die ander kant gevind word.”

Du Plessis sê ten spyte van die lae loonaanbod loof Solidariteit Lonmin vir die inisiatiewe wat hulle begin het om werknemers by te staan. “Dié bystand sluit onder meer in: skuldbeslagorders; die verskaffing van opleiding in finansiële geletterdheid aan werknemers; die hersiening van die verlof- en skofstelsel om dit vir veral trekarbeiders moontlik te maak om meer tyd met hulle gesinne deur te bring; die inwerkingstelling van ’n werknemeraandeleskema; ’n drastiese vermindering in die gebruik van arbeidsmakelaars; en die opgradering van hostels na gesinseenhede. Hierdie aangeleenthede was onderliggend tot die arbeidsonrus wat Lonmin verlede jaar getref het.”

Volgens Du Plessis het die afgelope 16 maande se onstabiliteit in die arbeidsverhoudinge-omgewing daartoe gelei dat 6 000 potensiële werksgeleenthede by Lonmin verlore gegaan het omdat die maatskappy weens finansiële redes nie meer in staat is om die K4-skag in Marikana te heropen nie. “Solidariteit doen daarom ook ’n beroep op sy medevakbonde en Lonmin-werknemers om die onderhandelinge met groot omsigtigheid te benader en korttermyn- strategiese vakbonddoelwitte ondergeskik te stel aan die langtermyndoelwitte wat tot voordeel van alle belanghebbendes sal wees.” Du Plessis sê alle aanduidings is daar dat die onderhandelinge by Lonmin in ’n voortydige stadium tot ’n dooiepunt sal lei. Solidariteit sal nou met sy lede vergader ten einde ʼn mandaat te kry.

Intussen is Solidariteit se onderhandelinge rakende erkenning by Lonmin in ’n sensitiewe stadium. Die opheffing van Solidariteit en ander vakbonde se erkenning by Lonmin was ’n uitvloeisel van die ooreenkoms wat die maatskappy met die vakbond Amcu geteken het. “Solidariteit het aanvanklik in reaksie hierop ’n sespuntplan aangekondig om die opheffing van die betrokke vakbonde se erkenning te beveg. Solidariteit en Lonmin het hulle intussen tot ’n konstruktiewe onderhandelingsproses verbind om minderheidsvakbonde se erkenning te herstel.”

Die kwartaallikse opvolggesprek tussen alle belanghebbendes in die mynbousektor en adjunkpresident Kgalema Motlanthe vind volgende week plaas. Daar bestaan geen twyfel nie dat die Lonmin-situasie weer die middelpunt van die gesprek sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.