Vakbond vra leiers om Pondokoning se leierskapvoorbeeld te volg by Lonmin

Foto: Mpondokingdom.co.za

Die vakbond Solidariteit het Donderdag koning Zanozuko Sigcau van Pondoland geloof vir die leierskap wat hy openbaar het toe hy die mynwerkers wat aan verlede week se gewelddadige staking deelgeneem het, by Lonmin se Marikana-myn toegespreek het.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê koning Sigcau het in sy toespraak ’n beroep op die werkers gedoen om terug te keer werk toe en nie hulle werk op die spel te plaas nie. “Koning Sigcau het bygevoeg dat die werkloosheidskoers baie hoog is en dat werkers nie kan bekostig om hulle werk by die myn te verloor nie, want dit sal hulle in armoede dompel.” Koning Sigcau is versoek om die werknemers toe te spreek omdat baie van hulle van die Pondoland-omgewing in die Oos-Kaap afkomstig is.

Du Plessis sê hierdie soort ferm leierskap is wat nou nodig is, want die stakende werkers kry gemengde boodskappe. “Diegene wat die onwettige stakers aanraai om nie terug te keer werk toe nie, is onkundig en onverantwoordelik en sal die gevolge moet dra as die werkers hul werk verloor of as soortgelyke aksies na ander myne oorspoel.”

Solidariteit het intussen ook ’n beroep op Amcu se leiers, gemeenskapsleiers en politici gedoen om koning Sigcau se prysenswaardige voorbeeld te volg.

Solidariteit het verder sy meegevoel betuig met die naasbestaandes van die afgestorwe mynwerkers wat vandag tydens gedenkdienste van hulle geliefdes afskeid neem. Verteenwoordigers van Solidariteit sal vandag se gedenkdiens by die Marikana-myn bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.