Solidariteit vra Menseregtekommissie om in te gryp in SAL-saak

Solidariteit het die Menseregtekommissie (MRK) versoek om ʼn vergadering tussen die vakbond en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) oor die lugredery se omstrede kadetprogram te fasiliteer. Die SAL het aangedui dat hy gewillig is om ʼn oplossing vir die dispuut te probeer vind nadat Solidariteit met ʼn regsproses begin het namens wit manlike kandidate wat weens hul velkleur nie by die kadetprogram ingesluit is nie.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het Woensdag gesê die ideaal is dat partye grondwetlike kwessies deur dialoog probeer oplos. “Die Wet op Gelyke Indiensneming verbied enige vorm van ʼn kwota om die nie-aangewese groep se grondwetlike reg op gelykheid en waardigheid te beskerm. In enige regstellendeaksieproses moet regte gebalanseer word. Die SAL kan nie selektief met die Wet op Gelyke Indiensneming en die Grondwet omgaan nie. Solidariteit kan nie aan ʼn beter instelling as die MRK dink om so gesprek te fasiliteer nie. Hierdie aangeleentheid is in wese ʼn grondwetlike en mensregtekwessie en almal in die land het ʼn belang daarby,” het Hermann gesê.

“Die MRK moet nie net menseregtevergrype ondersoek nie, maar ook voorkomend optree. Indien die partye ʼn ooreenkoms bereik, kan dit as ʼn voorbeeld dien vir Suid-Afrika dat dispute ook buite die hof opgelos kan word.”

Hermann het gesê daar kan byna nie ʼn beter gevallestudie wees van ʼn jong Suid-Afrikaner se reg op waardigheid as hierdie geval nie. “Solidariteit het verlede jaar ʼn veldtog teen die SAL van stapel gestuur nadat wit mans se aansoeke vir die kadetprogram summier afgekeur is wanneer hulle hul ras op die aanlyn aansoekvorm ingetik het. Die SAL het daarna die verbod op aansoeke van wit manlike kandidate vir sy kadetprogram opgehef. ʼn Aantal wit manlike kandidate het aan die proses deelgeneem en het onder die indruk verkeer dat hulle hul droom kan verwesenlik. Hulle is selfs na Pretoria gevlieg, in ʼn hotel gehuisves en het verskeie toetse gedoen. Aan die einde van die proses is hulle steeds afgekeur op grond van hulle ras. Die proses was oneerlik en het onbillike verwagtinge geskep en so die jongmense se reg op waardigheid en gelykheid aangetas.”

Die publiek kan protesbriewe oor SAL-kwotas deur middel van die webblad, www.stopkwotas.co.za, aan die SAL stuur. ʼn Ander manier om protes aan te teken, is deur die woord “Kwota” na 34388 te SMS. ʼn SMS kos R2 en sal ook by die protesboodskappe getel word. Die veldtog kan ook op Twitter by #StopSAA gevolg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.