Solidariteit vra vir parlementêre debat oor regstellende aksie

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit.

Die vakbond Solidariteit het vandag bekendgemaak dat die IVP, DA en Vryheidsfront Plus reeds te kenne gee het dat hulle ʼn parlementêre debat oor die toepassing van regstellende aksie steun en ʼn mosie in die verband sal indien. Dit kom nadat Solidariteit in ʼn skrywe aan politieke partye só ʼn debat versoek het.

Die versoek volg te midde van Solidariteit se regstellendeaksiehofsaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) se regstellendeaksieplan. “Ons glo dat die oplossing vir regstellende aksie nie net in die howe gesetel is nie, maar dat die werklike oplossing deur sosiale dialoog gevind moet word. Die DKD-saak wys dat regstellende aksie soos dit nou toegepas word, misluk het. Ons vertrou dat die debat in die hofsale nou sal oorspoel na ʼn nasionale debat en dat die uitkoms ʼn nuwe nasionale konsensus oor regstellende aksie sal wees. Die beste plek om so ’n debat te voer, is in die parlement en daarom het ons politieke partye gevra om so debat aan te vra,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging gesê.

Volgens Solidariteit het regstellende aksie ontwikkel in ʼn uitsetgebaseerde syferbenadering waar die mens uit regstellende aksie gehaal word. “Ons is oortuig dat die tyd nou ryp is vir ʼn alternatiewe model vir regstellende aksie, een wat fokus op mense en waarvolgens die nodige vaardighede geskep word sodat mense geleenthede kan benut. Dié vaardighede en mensekapitaal sal ʼn positiewe inset vir die ekonomie wees wat tot almal se voordeel sal strek. Die ekonomiese koek word dus groter sodat meer mense daarby kan aansit. Ons glo aan ʼn model wat ook tot groter beleggersvertroue sal lei en Suid-Afrikaners sal leer om nie van die stelsel afhanklik te raak nie, maar om eerder verantwoordelikheid vir hul eie lewens te aanvaar. Hierdie alternatiewe benaderings behoort behoorlik in die parlement gedebatteer te word. Ons vertrou dat so ’n parlementêre debat tot die uitbouing en versterking van die demokrasie in Suid-Afrika sal wees,” sê Hermann

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frik Lotz ·

Dis goed dat daar n debat gevoer moet word in die parlement oor regstellende aksie want dis iets wat net die swartmense bevoordeel.Blankes trek aan die kortste end en dis amper onmoontlik vir blankes om n werk te kry en dié wat wel werk het word oor die hoof gesien as dit kom by bevorderings.Toenemend word Bruinmense en Indiërs ook benadeel deur regstellende aksie.Regstellende aksie het sy doel gedien en moet afgeskaf word,want dis nie meer regstelling nie,maar blatante diskriminasie.Dankie vir n party soos die VF Plus wat nog altyd gekant was teen regstellende aksie en nie bang is om op te staan teen ongeregtighede en diskriminasie nie,veral waar dit die Afrikaner raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.