Solidariteit vs. die DKD: Regering weerspreek homself oor regstellende aksie

Die vakbond Solidariteit het Maandag met die hervatting van sy regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) in die arbeidshof in Kaapstad uitgewys dat die regering homself weerspreek oor die konsep van absolute rasseverteenwoordiging. Terwyl dié konsep een van die hoekstene van die DKD se saak is, het die Kommissie vir Billike Indiensneming aangedui dat rasseverteenwoordiging nie rigied toegepas hoef te word nie.

Dr. Loyiso Mbabane, voorsitter van die kommissie, het tydens ʼn onderhoud gesê daar is geen wet wat vereis dat die samestelling van ʼn werkgewer se personeelkorps ʼn presiese weerspieëling van die demografie van enige area hoef te wees nie. Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, het gesê dit beteken derhalwe dat rassedemografie nie nasionaal of plaaslik toegepas hoef te word nie. “Die kommissie, die regering se raadgewende liggaam oor regstellende aksie, se standpunt is dus in teenstelling met die DKD se beheptheid met die toepassing van die nasionale rassedemografie in alle gebiede en op alle posvlakke.”

Kruger het gesê Solidariteit is daarby ontevrede met die versuim van die DKD se regspan om by die ooreengekome spertye vir die lewering van belangrike dokumente te hou. “Die DKD se regspan moes na afloop van die vorige hofsessie verskeie dokumente binne bepaalde spertye aan Solidariteit se regspan gelewer het. Al die dokumente was egter maande laat oorhandig, wat die moontlike verkorting van die hofsaak in die wiele gery het. Dit is ʼn skokkende vermorsing van die belastingbetaler se geld en blyk ʼn vertragingstaktiek van die DKD te wees.”

Solidariteit se saak teen die DKD se omstrede regstellendeaksieplan het vanoggend in die arbeidshof in Kaapstad hervat. Die saak tussen Solidariteit en die DKD is van 24 April tot 3 Mei 2013 in die arbeidshof aangehoor, waarna dit tot 29 Julie uitgestel is. Solidariteit tree namens Linda-Jean Fortuin, Christopher February, André Jonkers, Geo-nita Baartman, Pieter Davids, Derick Wehr, Jan Kotze, Desiree Merkeur, Deidre Jordaan en Teresa Abrahams op. Die betrokke persone was in elke geval die beste kandidate vir poste waarvoor hulle aansoek gedoen het en hul velkleur is die enigste rede waarom hulle nie aangestel is nie.

Om die onderhoud met dr. Mbabane te kyk, kliek hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

M.Duiker ·

Ek is bly die lede in die Wes Kaap het die saak na die hof gedryf met die hulp van Solidariteit want dieselfde lgevalle gebeur ook in ander provinsies waarby jy die beste kandidaat is maar nie kan aangestel word nie op grond van jou velkleur en sommige aanstellings is persone wat nie eers kennis het van die werk het nie dan word hulle in senior poste aangestel maar jy wat volgens velkleur nie pos kan kry nie moet die persoon nog oplei

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.