Solidariteit vs. DKD: Maroela se mediadekking-aansoek goedgekeur

Christopher February, een van die lede namens wie Solidariteit optree. Foto: Reint Dykema

Maroela Media se aansoek om mediadekking vanuit die hof oor die Solidariteit vs. DKD-waterskeidingsaak te doen, is goedgekeur. Maroela Media is tans die enige mediahuis wat vanuit die hof verslag mag doen.

Een van die grootste regstellendeaksiesake in Suid-Afrika begin eerskomende Woensdag 24 April 2013 in die arbeidshof in Kaapstad.

Die saak is tot 3 Mei op die hofrol geplaas. Die vakbond Solidariteit pak die departement van korrektiewe dienste (DKD) in dié hof oor die DKD se omstrede regstellendeaksieplan. Volgens Solidariteit kan hierdie uitspraak die gesig van regstellende aksie in die DKD, maar ook in die hele staatsdiens, vir altyd vir ander. Volgens die DKD se regstellendeaksieplan moet die nasionale rassedemografie in elke werksplek, selfs op provinsiale en streeksvlak, weerspieël word. Gevolglik staan wit en veral bruin werknemers in die Wes-Kaap bykans geen kans meer op bevordering en aanstellings nie.

Solidariteit tree op namens Linda-Jean Fortuin, Pieter Davids, Christopher February, André Jonkers en Geo-nita Baartman. Die betrokke persone was telkens die beste kandidate vir poste waarvoor hulle aansoek gedoen het en hul velkleur is die enigste rede waarom hulle nie aangestel is nie. In al die gevalle het die DKD geargumenteer dat die nasionale demografie as maatstaf gebruik moet word. Dit is egter logies dat bruin Suid-Afrikaners in die Wes-Kaap dan op byna alle posvlakke oorverteenwoordig sal wees.

Die DKD se plan bepaal dat bruin Suid-Afrikaners slegs 8,8% van die werknemers in die DKD in die Wes-Kaap moet uitmaak, terwyl bruin Suid-Afrikaners sowat 51% van die ekonomies aktiewe bevolking in die provinsie uitmaak. Indien die nasionale demografie op die Wes-Kaap toegepas word, sal dit beteken dat daar sowat een miljoen bruin Suid-Afrikaners te veel in die Wes-Kaap is. Volgens hierdie benadering sal hulle nie regte hê waar hulle bly nie, maar sal hulle agter hul regte moet aan trek. Dit sal beteken dat ʼn reuse-sosialemanipulasieprogram en gedwonge verskuiwings nodig is om die staat se regstellendeaksiedoelwitte te bereik. Solidariteit voer aan dat die DKD se blatante beleid van absolute verteenwoordiging onbillik, irrasioneel en onwettig is. Solidariteit gaan nie net vra vir ’n beslissing dat sy lede bevorder word nie, maar ook dat die regstellendeaksieplan van die DKD in sy geheel onwettig verklaar word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.