Solidariteit wil nie ANC se “stemwerwers” wees nie

Dirk Hermann

Die ANC het Dinsdag met ʼn groep van 19 Afrikaner-organisasies vergader in ʼn “Afrikaner dialoog”, maar Solidariteit, die FAK, TLU SA, en AfriForum het nie dié vergadering bygewoon nie.

Dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging (waarby ingesluit die vakbond Solidariteit, AfriForum en die Helpende Hand) sê hulle wil nie deel wees van ʼn proses om steun vir die ANC onder Afrikaanssprekendes te probeer werf nie. Die doel van hierdie vertroulike gesprek was glo hoofsaaklik om ʼn strategie te bedink om Afrikaanssprekendes na die regerende party te lok, en om uit te vind hoekom so min Afrikaanssprekendes die ANC ondersteun.

“Ons dink dis noodsaaklik dat daar gereelde gesprekke in goeie trou plaasvind tussen Afrikaners en die ANC om knelpunte op te los, en daarom het Solidariteit in die verlede reeds aan verskeie gesprekke met die ANC deelgeneem om onder andere knelpunte soos onbillike regstellende aksie, die posisie van Afrikaans, onderwys, plaasmoorde, nasionalisering en die eensydige verandering van plekname te bespreek,” het Hermann gesê. “Ons stel egter nie daarin belang om ‘n stemwerwingsagentskap vir die ANC te wees nie. Ons sal onmiddellik met pogings begin om in ‘n konstruktiewe gesprek met die regerende party te tree. Ons glo aan openhartige openbare dialoog.”

Volgens Hermann was daar in die verlede al te veel sulke openbare betrekking vergaderings van die ANC met die Afrikaanse gemeenskap wat tot niks gelei het nie. Hierdie oefening blyk niks anders te wees nie. “Daar is min twyfel dat dit baie noodsaaklik is dat betekenisvolle samesprekings tussen die ANC en die Afrikaanse gemeenskap moet plaasvind, maar dit moet ʼn proses wees wat oplossingsgerig en nie stemmegerig is nie.”

Hermann sê voorts dat hulle wil seker maak dat die ANC die politieke wil het om knelpunte van die Afrikaanse gemeenskap aan te spreek. “Hulle kan nie een dag in gesprek wil tree en die volgende dag ons kulturele erfenis verder aftakel nie. Hulle kan nie wil praat oor die teenwerking van vervreemding, maar terselfdertyd Afrikaansmedium skole aktief teiken nie. Hulle kan nie ‘n deelnemende stem van minderhede wil hê, maar hulle in ‘n permanente posisie van diskriminasie plaas deur onbillike regstellende aksie nie. Hulle kan nie vra vir vertroue in die regering, terwyl korrupte amptenare op ‘n groot skaal die staatskas plunder nie. Hulle kan nie vra ‘help om die land te bou’, maar dan ‘n aggressiewe grondhervormingsproses van stapel stuur sonder in agneming van voedselsekuriteit nie,” het Hermann bygevoeg.

Volgens Hermann is die Solidariteit Beweging nie daar om die ANC by die Afrikaanse gemeenskap te verteenwoordig nie, maar hulle is wel bereid om te help om Afrikaners en die breë Afrikaanse gemeenskap se standpunte aan die ANC oor te dra, met die oog op wen-wen oplossings wat in landsbelang is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.