Solovaarder veilig ná dramatiese reddingspoging

Michael Kuun en die bemanning van die NSRI se Spirit of Vodacom

Michael Kuun en die bemanning van die NSRI se Spirit of Vodacom

Michael Kuun (47), ʼn solovaarder wat sy seiljag op pad na die Karibiese Eilande moes verlaat, is gered, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), Dinsdag gesê.

“Kuun, oorspronklik van Benoni aan die Oos-Rand, het oor die naweek probleme ondervind terwyl hy op die oop see was,” het Pat van Eyseen, stasiebevelvoerder van die NSRI, gesê. “Hy en sy meisie het van Oos-Londen na Saldanhabaai gevaar voordat hy Vrydag alleen op die vaart vertrek het.” Kuun se bestemming was glo St Helena-eiland. Sy meisie sou later daar by hom aansluit.

Kuun het verdere probleme ervaar met sy 43 voet-seiljag. “Hy het sy meisie geskakel wat hulp ontbied het en die olietenkskip Aqua Fortune, van Mauritanië onderweg na Singapoer, het op 22 Desember ʼn reddingspoging aangewend.” Die Aqua Fortune was die naaste skip.

Die bemanning van die olietenkskip kon met die sewende poging Kuun uiteindelik uit die water haal en na veiligheid bring op die skip. Kuun moes al sy besittings op die seiljag agterlaat en het net sy paspoort, ʼn paar dollar, ʼn duikpak en lewensreddingsbaadjie by hom gehad toe hy gered is.

Reëlings is getref om hom terug te bring na Suid-Afrika.

Die NSRI se Spirit of Vodacom het vanoggend om 05:30 by die Aqua Fortune, sowat 12.5 seemyl van Mouille Point, aangesluit vanwaar Kuun na die immigrasiekantoor is om sy paspoort te stempel. Hy sal na verwagting omstreeks 16:00 vandag terugvlieg na Johannesburg.

Die seiljag is nog steeds op die oop see. Kuun het glo ʼn brief op die seiljag gelaat sodat enigiemand, wat dalk daarop afkom, met hom in verbinding kan tree om van sy besittings op die seiljag te red.

Klik hier om verdere besonderhede oor die reddingspoging te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.