Sondag moet jammer sê vir Scott

Scott. Foto: JacarandaFM

Scott. Foto: JacarandaFM

Die Sondag-koerant moet die radio-omroeper Darren Scott om verskoning vra oor ʼn artikel wat hulle vroeër vanjaar gepubliseer het.

Sondag het op 2 Junie vanjaar ʼn artikel gepubliseer met die opskrif: “Eks-vriend eis nou R4.3 miljoen oor verlies.” Die artikel was grotendeels gebaseer op kommentaar van Anthony Duke en het gehandel oor ʼn voortslepende hofstryd tussen Scott en Duke. Sondag het berig dat Scott op bedrieglike wyse klanktoerusting van R120 000 gevat het en dat hy dwelms en alkohol gebruik het. Die artikel was slegs op Duke se onbevestigde weergawe van die gebeure gebaseer. Scott het gekla dat die artikel eensydig en lasterlik was en dat dit ʼn aanval op sy waardigheid en reputasie was. Die joernalis het Scott glo om kommentaar genader maar hom glo nie genoegsame inligting gegee oor Duke se bewerings teen hom nie. Scott het dus net gesê die hof sal oor die aangeleentheid besluit.

Die Persombudsman, Johan Retief, het bevind dat die artikel in openbare belang was aangesien Scott ʼn bekende figuur is. Hy het wel bevind dat daar “min twyfel” is dat die storie eensydig en ʼn onregverdige aanval op Scott se waardigheid en reputasie was. Retief sê die feit dat die artikel slegs op een bron gebaseer was is rede tot kommer. Sondag is beveel om Scott om verskoning te vra en ʼn artikel te plaas waarin Retief se kritiek oor die oorspronklike artikel weergegee word. Sondag is ook beveel om die perskode op bladsy ses van de koerant te publiseer sonder enige ander artikel of teks. Sondag het sewe dae om teen Retief se uitspraak te appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.