Johannes Jacobus Steyn, of die sogenaamde “Sondag-verkragter”, staan tereg op 13 aanklagte van verkragting, 10 van ontvoering, ses van seksuele aanranding en ʼn klag van moord. Steyn het na bewering op 12 Oktober vir Louise de Waal ontvoer terwyl sy en ʼn vriendin op pad was skool toe. Haar verkoolde lyk is later dieselfde dag op ʼn verlate plaas in Magaliesburg gevind. Steyn het homself die volgende oggend by die Margate-polisiestasie oorgegee. Die polisie het bevestig dat Steyn erken het dat hy die sogenaamde “Sondag-verkragter” is. Die “Sondag-verkragter” het verlede jaar na bewering twee skoolmeisies in Pretoria-Wes ontvoer. Die een meisie het glo uit die ontvoerder se bakkie gespring en is dood. Die ander meisie is verkrag. Die “Sondag-verkragter” word verbind met verkragtings in Vanderbijlpark, Krugersdorp, Potchefstroom, Pretoria en Rustenburg. Steyn sal na verwagting op alle aanklagte tereg staan in die Krugersdorp landdroshof nadat die polisie gevra het dat alle sake teen hom gesentraliseer word.
Die hof het tydens Steyn se vorige verskyning op 17 Oktober gelas dat daar nie foto’s van hom op so manier geneem mag word dat dit sy identiteit onthul nie aangesien daar moontlik later ʼn uitkenningsparade kan wees.