Sondagverkragter: “Ek weet God sal my vergewe”

Johannes Jacobus Steyn

Johannes Jacobus Steyn, of die sogenaamde ‘Sondagverkragter’, sê hy het nagte om gehuil en gebid in sy tronksel en weet dat God hom sal vergewe.

Steyn is Woensdag vyf keer lewenslange tronkstraf opgelê sowel as ʼn bykomende 170 jaar nadat hy skuldig bevind is aan 33 van die 37 aanklagtes teen hom. Steyn het na afloop van sy vonnisoplegging vrae van die media beantwoord. Op ʼn vraag oor of hy sekere tipes vroue geteiken het, het Steyn geantwoord: “Ek het nie ʼn spesifieke tipe meisie nie.” Hy is ook gevra hoekom hy besluit het om Louise de Waal se liggaam te verbrand nadat hy haar ontvoer en vermoor het. “Ek kan nie sê dit was impulsief nie…Ek het besluit om haar te verbrand nadat ek nie kon besluit wat om met haar liggaam te doen nie.” Nadat Steyn vir verdere kommentaar gevra is, het hy geantwoord: “Koop die boek. Alles sal in die boek wees.” Die hof het vroeër gehoor dat Steyn begin het om ʼn boek te skryf oor sy lewe. Steyn het ook aan verslaggewers gesê dat hy nie gemolesteer is as kind nie. “Ek kan nie onthou dat ek gemolesteer is nie. Ek het selfs na ʼn hipnotiseur gegaan om iets te probeer onthou.” Steyn is ook gevra of hy om verskoning wil vra aan sy slagoffers en of hy berou het oor wat hy gedoen het. “Niemand was daar toe ek my aande in ʼn sel deurgebring het, gehuil het en God om vergifnis gesmeek het nie…Ek weet God sal my vergewe.” Steyn het ʼn bruin Afrikaanse Bybel by hom gehad.

Steyn is skuldig bevind aan die moord op Louise de Waal en Lazanne Farmer. De Waal is in Oktober verlede jaar ontvoer terwyl sy en ‘n vriendin op pad skool toe was in Randburg. Haar verkoolde lyk is dieselfde dag op ‘n verlate plaas in Magaliesburg gevind. Steyn het hom die volgende dag by die Margate-polisiestasie in KwaZulu-Natal oorgegee. Farmer en ’n 16-jarige vriendin is Sondag 5 September 2010 in Elandspoort in die weste van Pretoria ontvoer. Farmer het uit Steyn se bakkie na haar dood gespring. Haar vriendin is hierna in ’n beboste gebied verkrag. Regter Sita Kolbe het in haar uitspraak gesê die gemeenskap moet van Steyn beskerm word. “Elke ma in hierdie land moes na die voorval luister en bekommerd wees dat dit nie met hulle kinders gebeur nie.” Farmer se ma het in trane uitgebars tydens die vonnisoplegging. “Ek is gelukkig oor die vonnis maar dit sal nooit my kind terugbring nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.