“Sondagverkragter” in hof

Steyn tydens sy verskyning op 13 Desember in die Krugersdorp streekshof. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die sogenaamde “Sondagverkragter”, Johannes Jacobus Steyn, se verhoor begin vandag in die Suid-Gautengse hooggeregshof.

Steyn (35) staan tereg op twee aanklagte van moord, 11 aanklagte van verkragting, 10 aanklagte van seksuele aanranding, een van poging tot seksuele aanranding, 10 aanklagte van ontvoering, een van poging tot onvoering en twee aanklagte van aanranding. Steyn word aangekla van die moord op Louise de Waal (17) en Lazanne Farmer (14). De Waal is in Oktober verlede jaar ontvoer terwyl sy en ‘n vriendin op pad skool toe was in Randburg. Haar verkoolde lyk is dieselfde dag op ‘n verlate plaas in Magaliesburg gevind. Steyn het hom die volgende dag by die Margate-polisiestasie in KwaZulu-Natal oorgegee. Farmer en ’n 16-jarige vriendin is Sondag 5 September 2010 in Elandspoort in die weste van Pretoria ontvoer. Farmer het uit die ontvoerder se bakkie na haar dood gespring. Haar vriendin is glo hierna in ’n beboste gebied verkrag. Steyn se jongste slagoffers was glo twee 11-jariges. Die verhoor is geskeduleer om tot 21 September voort te duur. Die “Sondagverkragter” word verbind met verkragtings in Vanderbijlpark, Krugersdorp, Potchefstroom, Pretoria en Rustenburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae