Sondagverkragter pleit onskuldig

Steyn tydens sy verskyning op 13 Desember in die Krugersdorp streekshof. Foto: Werner Beukes/SAPA

Jaco Steyn, die sogenaamde “Sondagverkragter”, het Maandag in die Palm Ridge-landdroshof onskuldig gepleit op al 37 aanklagte teen hom.

Die verhoor is van die Johannesburgse hooggeregshof na die Palm Ridge-hof in Alberton geskuif weens opknappingswerk wat daar gedoen word.

Steyn (35) staan tereg op twee aanklagte van moord, 11 aanklagte van verkragting, 10 aanklagte van seksuele aanranding, een van poging tot seksuele aanranding, 10 aanklagte van ontvoering, een van poging tot ontvoering en twee aanklagte van aanranding.

Steyn word aangekla van die moord op Louise de Waal (17) en Lazanne Farmer (14). De Waal is in Oktober verlede jaar ontvoer terwyl sy en ‘n vriendin op pad skool toe was in Randburg. Haar verkoolde lyk is dieselfde dag op ‘n verlate plaas in Magaliesburg gevind. Steyn het hom die volgende dag by die Margate-polisiestasie in KwaZulu-Natal oorgegee. Farmer en ’n 16-jarige vriendin is Sondag 5 September 2010 in Elandspoort in die weste van Pretoria ontvoer. Farmer het uit die ontvoerder se bakkie na haar dood gespring. Haar vriendin is glo hierna in ’n beboste gebied verkrag. Steyn se jongste slagoffers was glo twee 11-jariges.

Die Sondagverkragter word verbind met verkragtings in Vanderbijlpark, Krugersdorp, Potchefstroom, Pretoria en Rustenburg.

Die verhoor is geskeduleer om tot 21 September voort te duur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.