Sondagverkragter-saak: “Ek ken nie ‘n Louise de Waal nie”

Johannes Jacobus Steyn, die "Sondagverkragter"

Die sogenaamde Sondagverkragter het Maandag in die Palm Ridge-landdroshof in Alberton oor sy bewegings op die dag wat Louise de Waal ontvoer is, getuig.

Johannes Jacobus Steyn het glo eers ‘n prostituut huis toe geneem, maar toe die huis verlaat, aangesien hy bekommerd was sy vrou sou huis toe kom. Steyn het glo op 12 Oktober 2011 siekverlof by sy werk geneem en ‘n prostituut opgetel. Hy het gesê hy was tuis nie “seksueel bevredig” nie. Hulle het glo eers na sy huis gegaan, maar hy het skuldig gevoel en was bekommerd dat sy vrou sou huis toe kom, aangesien hulle besig was met reëlings vir hul seun se verjaarsdag.

Steyn sê hy het hul troufoto en die Bybels langs hul bed uit die slaapkamer geneem. “Dit was maar dinge wat my persoonlik gepla het,” het hy gesê.

Hierna het hy glo die prostituut na ‘n verlate vakansieoord in Hekpoort geneem. Volgens Steyn sal dit verklaar waarom sy selfoon se GPS toon dat hy in die omtrek was waar De Waal se verkoolde lyk opgespoor is.

Steyn het onskuldig gepleit op twee aanklagte van moord, 11 van verkragting, 10 van seksuele aanranding, 10 klagtes van ontvoering, een van poging tot seksuele aanranding en een van poging tot ontvoering.

Steyn het ontken dat hy De Waal geken het. “Ek ken glad nie ‘n Louise de Waal nie,” het hy gesê. De Waal se ma, wat in die gallery gesit het, het hierop reageer: “Ek glo dit nie.”

Regter Sita Kolbe het gewaarsku dat, indien die hof weer onderbreek word, die verhoor in camera gehou sal word.

De Waal se gesin het die hofverrigtinge bygewoon. Hulle het ‘n foto van haar gedra.

Steyn sê hy is omstreeks 12:00 huis toe op die dag van De Waal se moord en het sy seun omstreeks 15:00 by die skool gaan haal. Hy het glo van De Waal se ontvoering oor die radio gehoor en dat die polisie op soek was na ‘n silwer bakkie. Die polisie was buite sy huis toe hy daar opgedaag het. “Ek was bang om met hulle te praat, aangesien my seun in die motor was… Mens hoor stories van mense wat in hegtenis geneem word en dan los hulle die kinders net daar.”
Hy het sy seun toe na ‘n vriend se huis geneem en sy vrou gebel om vir haar te sê dat sy moet probeer uitvind wat aangaan. “Ek het skuldig gevoel om my vrou by die saak te betrek en het toe na ‘n priester toe gegaan,” het Steyn bygevoeg. Hy het toe na KwaZulu-Natal toe gery. Daar het hy probeer selfmoord pleeg voordat hy hom aan die polisie by Margate oorhandig het.

Anton Lerm, Steyn se prokureur, het hom gevra of hy die 11 slagoffers van die sogenaamde “Sondagverkragter”, almal tussen 11 en 18 jaar oud, geken het. Steyn het gesê hy ken hulle nie. Hy het bygevoeg dat hy talle buite-egtelike verhoudings gehad het, en dat dit moontlik verklaar waarom sy foon se GPS hom telkens in die omtrek van hul ontvoerings geplaas het. Hy sê hy het gereeld prostitute aan die Wes-Rand en rondom Pretoria opgetel. “Ek is swak as dit kom by die teenoorgestelde geslag,” het hy gesê.

Lerm het hierop vir Steyn gevra of hy ooit enigiets oor die misdade aan sy vrou erken het. “Ek het nooit enigiets aan haar ontken nie,” het hy gesê.

Tydens sy getuienis het Steyn gesê dat hy glo probeer selfmoord pleeg het, aangesien hy vantevore gevange geneem is en enigiets sou doen om dit te vermy.

Staatsaanklaer Carina Coetzee het gevra of hy iemand sou vermoor om arrestasie te vermy. “Nee, ek sal nie iemand anders vermoor om dit te vermy nie,” het hy gesê.

‘n Dokter, wie die Staat tot nou toe nie kon opspoor nie, het ook Maandag getuig. Lehlohonolo Letsi het getuig oor die seksuele aanranding van een van die meisies. Hy het bevestig dat die (toe 16-jarige) meisie in Februarie 2010 seksueel aangerand is. “As dit nie gewelddadig was nie, sou daar nie sulke kneusplekke gewees het nie,” het Letsi getuig.

Shereen de Waal, Louise se ma, het buite die hof gesê dit is moeilik om die verrigtinge by te woon. “Dis baie moeilik om hom elke keer te sien.”

Die saak duur Dinsdag voort.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.