Sonskynskrywer PH Nortjé sterf

Lus vir net ‘n bietjie ontspan na ‘n dag van die gewone bedrukkende dinge? Geen probleem nie. Gaan haal net een van PH Nortjé se bundels sketsverhale uit die boekrak, sit agteroor, en verhuis na ‘n wêreld so eie aan die Afrikaner waar die son byna altyd skyn. Ontspan in ‘n wêreld van humor, maar waar humor nooit vervlak nie.

Maar nou is sy pen finaal stil na hy op 91-jarige ouderdom in ‘n aftree-oord in die Strand oorlede is. PH Nortjé sal veral as humorskrywer onthou word, maar sy oeuvre is baie, baie wyer. Die rou aardsheid van sy grootwordwêreld in die Baviaanskloof waar hy op 20 Oktober 1920 in sy ouers se hoofslaapkamer gebore is, tot jeugverhale, tot die sonskynboeke oor sy geliefde Wellington, wat om sy gesin, sy bure en oupa Grootbul van Bonnievale geweef is.

Aan die sonkant, Nuut onder die son, Operasie sonskyn en ander leesavonture, en Op die sonpad tel onder die bekende boeke wat PH Nortjé ‘n bekende naam onder Afrikaanse lesers gemaak het.

Na Nortjé self opgehou het om te skryf, is sy werk nog in verskillende bundels uitgegee, onder meer Op ‘n hoë noot, Die lekkerste stories van PH Nortjé, en Wellington se suiker, wat deur Danie Botha saamgestel is. Onder sy bekendste werke tel Die Groen Ghoen, Matewis se mense gaan boer, Bly of Gly, en Pennie se vuur.

Nortjé het homself nie as skrywer nie, maar as storieverteller, beskou. Skryf was volgens sy seun, Charl, harde werk, en hy het onder groot aanmoediging van sy vrou Mikie en bure sy hand aan die pen geslaan. Hy word deur sy hoofkarakters, sy seuns Charl, Francois en Pierre-Henry en agt kleinkinders oorleef.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pierre Henri ·

Baie dankie vir die mooi woorde oor ons pa.

Charl, Francois, Pierre-Henri en families

Paul ·

Ek dink alle kinders wat die boeke oor jul kinderdae gelees het, het drie ekstra speelmaats gehad in die drie Nortjé broers, so goed het julle pa dit beskryf.

Susan Lombaard ·

Dankie vir die terugvoer, Pierre-Henri. Ons innige simpatie aan julle as gesin en familie. Susan Lombaard (Bestuurder: Maroela Media)

Jean Mackie (Beynon) ·

Dankie, dankie, dankie vir die mooi stories van die pen van Mnr Nortje. Ek het hulle graag gelees, en het baie keer gewonder – wat is die plek, ‘die Baai’. Now I must switch to English, as I have lived in Canada since 1964 and have had no opportunities to speak and write Afrikaans.

In the early sixties I was approached by Oxford University Press to try to translate three of Mr. Nortje’s wonderful stories. This I did. I didn’t find out until after the publication of the English versions about the name of place referred to as ‘die Baai’. Also, I needed help to understand ‘Nagmaal’, and the importance attached to this infrequent event – not only religious, but also as a social opportunity. I was living in London at that time, so had to correspond with a very helpful former Afrikaans teacher at Rustenburg for her help in understanding ‘Nagmaal.’

My attempts at translation did not begin to do justice to Mnr. Nortje’s fine work about the kingdom of boyhood … but they were greatly enhanced by the fine illustrations of William Papas.

Charl, Francois, and Pierre-Henri – my condolences to you, but don’t grieve too long. Read his writings again and enjoy the charm, freshness, and gentle humour.

Go well, P.H.Nortje.
Jean Mackie (Beynon)

H J Bester ·

Het goeie herinngeringe aan P H Nortjé se “Pennie se Vuur” wat ek in 1965 in matriek aan die Hoërskool Outjo as voorgeskrewe boek gehad het.

Paul Fouche ·

Wat ‘n besondere voorreg om mnr. P.H. Nortjé as dosent te kon beleef! Net met die eerste toets was ek bitter ontsteld, want ek het nie geweet hoe en wat om te leer nie. Dit kon mos nie wees dat ek alles sommer net geken het nie! Onnodige kommer, want hy het sy vakteorie deurentyd so met praktiese ervarings toegelig dat elke lesing onvergeetlike vaslegging was.

Hy het boonop die verstommende vermoë gehad om ‘n vraestel so op te stel dat dit verdere verryking van sy lesings was! Die enigste vraestelle waarna ek uitgesien het soos na elke lesing. Sy blote teenwoordigheid het vurige, jong gemoedere gekalmeer, sy menslikheid het agting ontlok.

Met dankbaarheid eer en groet ek ‘n opvoedkundige, ‘n ware Leermeester, maar boweal ‘n besondere, onvergeetlike mens.

Andri ·

Op die ouderdom van 27 ontdek ek nou eers PH Nortje se stories – as n nuwe intrekker in Wellington geniet ek dit terdeë

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.