Sontorings se impak op voëls bekyk

Die Khi One-sonkragtoring naby Upington. (Foto: Verskaf)

“Wanneer opsies rondom hernieubare energie oorweeg word, moet die voor- en nadele daarvan op die omgewing, en die impak wat dit op plante en diere kan hê, altyd in berekening gebring word.”

Só sê HP van Heerden, omgewingskonsultant wat ʼn meestersgraad in bewaringsekologie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, wat ʼn studie oor die impak op voëllewe rondom die Khi Solar One-fasiliteit naby Upington in die Noord-Kaap gedoen het.

Sy studie is gegrond op soortgelyke navorsing wat al in die VSA en Spanje gedoen is.

Van Heerden het oor twee seisoene al die voëlspesies op die 315 hektaar sonkragtoringterrein dopgehou, asook op die aangrensende oop veld. Sy bevindinge het gewys dat die sonkragtoring by Upington wel ʼn invloed op die voëllewe in die omgewing het, maar dat dit kleiner is as wat verwag is.

Meer as 320 beseerde of dooie voëls van 34 verskillende spesies is in die groter terrein aangetref. Hiervan is 285 in die heliostat-gebied, of sogenaamde sonveld, opgemerk terwyl die res rondom die kragopwekkingseenheid en die verdampingsdamme gevind is.

“Soveel as 61% van die voëls het teen strukture gebots in die omgewing waar die vrystaande heliostate staan, en meestal teen die onderste kwart van hierdie strukture, ongeveer 3,2 m bokant die grond. Dit sluit die onderste twee panele van elke heliostaat in,” sê Van Heerden. “Dit is omtrent die normale vlieghoogte van kleiner voëls.”

Die meeste van die dooie voëls was saadvretende, inheemse spesies soos rooibekkwelea, vaalstreepkoppies en rooikopvinke. Benewens een edelvalk en een wit pelikaan het geen ander bewaarde voëlspesies gevrek nie.

Kameras rondom die gebied het gewys dat die dooie voëls deur witborskraaie, silwerjakkalse en witkwasmuishonde gevreet is.

Van Heerden sê dat die meeste van die voorvalle vroegoggend of rondom sononder plaasgevind het. Dít is tipies wanneer voëls die aktiefste is. Hy vermoed dat die heliostate tydens sonop en sononder teen ʼn 90-grade vertikale posisie staan, en dat dit die illusie van ʼn ononderbroke landskap skep wat voëls heeltemal kan verwar.

Migrerende voëls of spesies wat hul prooi in die lug jag, is meestal tydens die somermaande geskroei deur die gekonsentreerde sonligstraal. Hierdie straal kan tot temperature van 800 °C bereik wat van die heliostate tot verby die sentrale ontvanger skyn.

In ongeveer 14% van alle voorvalle is die voëls geskroei.

“Die skerp lig wat uitgestraal word van die torings se spieëls kan insekte lok, en in die proses ook insekvretende voëls,” sê Van Heerden. “Wanneer iets soos ʼn bewegende voël dalk deur die straal vlieg, skroei dit omdat die sonlig van die heliostate teen iets bots, en dan na termiese energie omgeskakel word.”

Die meeste sulke gevalle is waargeneem in ʼn tyd toe die heliostate buite gebruik was. Die heliostate is toe in die bystandsposisie gerig, wat ʼn soort stralekranseffek en verskroeiing in die lug bokant die toring tot gevolg gehad het.

“Vir perspektief oor die werklike impak van sonkragtorings moet ʼn mens voëlvrektes rondom die terrein vergelyk met dié wat veroorsaak word deur ander menslike aktiwiteite in die omgewing, soos boerdery, mynbou of die padnetwerk,” sê prof. Karen Esler, voorsitter van die Universiteit Stellenbosch se Departement Bewaringsekologie en Entomologie.

In ʼn studie wat in 2014 gedoen is, word geraam dat tussen 98 en 980 miljoen voëls jaarliks in die VSA vrek nadat hulle in geboue of vensters vasgevlieg het. Daarvolgens word tot 3,7 miljard deur katte gevang, en tussen 89 en 340 miljoen vrek weens verkeersverwante voorvalle.

Van Heerden is van mening dat die impak van sonkragtorings op die omgewing byna onvermydelik is, maar dat dit tot die minimum beperk kan word mits dit reg bestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miskruier ·

Snaaks dat ek al gesê het, die groot informele sinkplaat woongebied wat so entjie van plaas af is, veroorsaak dat dit nie reen nie. Dit veroorsaak definitief dat ons in die winter nie ryp kry nie. Dis n bekende praktyd dat boere rook maak om hul boorde teen ryp te beskerm.

Dirk Mostert ·

Navorsing oor die impak van windturbines op voellewe sal gepas wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.