Soweto-tiener: konstabel moes nie vuurwapen kry

Die studente konstabel wat glo vroeër die maand ʼn Soweto-tiener doodgeskiet het, sê hy het die tiener deursoek toe die voorval plaasgevind het.

Die studente konstabel, Sipho Mbatha, het die bewering in ʼn beëdigde verklaring gemaak, wat Maandag aan die Roodepoort landdroshof voorgelees is. Mbatha het egter nie uitgebrei oor hoe die skietery plaasgevind het nie, maar het ontken dat hy “wederregtelik en opsetlik die oorledene gedood het.” Mbatha (41) het glo op 14 Februarie die 16-jarige Thato Mokoka doodgeskiet. Die tiener is drie keer geskiet, glo terwyl hy op die grond op sy maag gelê het buite sy ouma se huis in Soweto. “Voor ons die erf binnegegaan het, het ons ons vuurwapens op outomaties geplaas aangesien ons verstaan het dat hy gewapen was,” beweer Mbatha in sy verklaring. Mbatha sê Mokoka is na buite die huis gevat en beveel om op die grond te lê voor hy deursoek is. Die staat het intussen Maandag ʼn senior ondersoekbeampte by die Onafhanklike Klagtedirektoraat, Leon Naidoo, ondervra. Op ʼn vraag aan Naidoo oor of hy dink daar is ʼn risiko dat Mbatha sy eie lewe kan neem indien hy borg toegestaan word, het hy geantwoord: “Ja.” Naidoo sê hy het van Mbatha se “selfmoord neigings” gehoor by van sy toesighouers. “Daar is praatjies van twee [selfmoord pogings], maar niemand is bereid om ʼn verklaring hieroor af te lê….ek het deur sy persoonlike leërs gewerk maar daar is niks hiervan opgeneem nie.”

Mbatha voer aan dat die skietery plaasgevind het nadat inwoners gekla het dat die tiener ʼn vuurwapen gehad het en hulle geterroriseer het. Naidoo sê vyf polisiebeamptes het deur die erf gestap terwyl Mbatha die tiener teen die grond gedruk het. “Die familie het skote hoor afgaan…Hulle het gesien hoe hy [Mbatha] sy vuurwapen op die grond neergooi. Hulle het gesien die oorledene is verskeie kere geskiet in die kop en rug en dat hy [Mbatha] wegbeweeg het van die oorledene.” Naidoo het getuig dat die vuurwapenbeampte by die Dobsonville-polisiestasie vroeër aan hom gesê het dat Mbatha nie geskik is om ʼn vuurwapen te hanteer nie. Mbatha het gewoonlik in die kantoor gebly. Die aand van die voorval het die bevelvoerder aan diens egter gelas dat Mbatha mag saamgaan. Die landdros het gevra dat die persoon wat die vuurwapen aan Mbatha verskaf het aan die hof moet kom vertel waarom hy dit gedoen het. Die landdros het ook vir Naidoo gevra om te verduidelik wat dit beteken indien ʼn R5 op outomaties gestel word. “Soos ek dit verstaan, kan die sagste aanraking tot gevolg hê dat die vuurwapen afgaan. Binne ʼn sekond kan dit basies leeggemaak word.” Naidoo sê só ʼn vuurwapen kan tussen 30 en 35 rondtes hê. Mbatha se borgaansoek is tot 28 Februarie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.