Spar bied R100 000 beloning vir moordenaars

Die Spar-winkelgroep het ʼn beloning van R100 000 uitgeloof in ʼn poging om ʼn groep verdagtes vas te trek wat een van hul bestuurders, Paul Androliakos, onlangs in sy winkel in Johannesburg afgemaai het.

Androliakos, wat die bestuurder van Jukskeipark Spar was, is 10 Junie tydens ʼn gewapende rooftog by die winkel in Randburg doodgeskiet. ʼn Groep van ses gewapende mans het omstreeks 19:00 by die Spar ingestorm en die eienaar en ʼn sekuriteitsbeampte van die winkelsentrum geskiet. Die sekuriteitsbeampte het die aanval oorleef.

Kringtelevisie-beeldmateriaal wys hoe die bende die veiligheidswagte en Androliakos aanval en verby veiligheidskameras beweeg sonder om hul gesigte te probeer verbloem.

Spar het Woensdag ʼn advertensie in Beeld op bladsy 8 geplaas wat amper oor ʼn volle bladsy strek. Grepe uit die beeldmateriaal, wat van die mans se gesigte wys, word vertoon. Onder die foto’s staan daar geskryf: “Help ons om hierdie wrede moordenaars vas te trek”.

“Misdaad saai verwoesting in gemeenskappe regoor Suid-Afrika. Eienaars en werknemers van Spar is deel van hierdie gemeenskappe en gevolglik ook slagoffers van misdaad. Ons het jou hulp nodig om veiliger gemeenskappe te bou. As jy dus enige een van hierdie mans herken of kennis dra oor dié gewapende rooftog, laat ons asseblief weet. Spar het (onderworpe aan hul uitbetalingsbeleid vir belonings) altesaam R100 000 beskikbaar gestel vir enige inligting wat sal lei tot die inhegtenisname en suksesvolle vervolging van die skuldiges,” lui die advertensie.

Dit sluit af met “Help ons om hierdie mans agter tralies te sit, skakel 071-316-8947”.

Klik hier om meer foto’s van die beeldmateriaal te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.