Speelgoedgeweer-‘boewe’ in PTA vasgetrek

geweer4-320x1791Twee mans is in hegtenis geneem nadat hulle ʼn diplomaat se vrou en ʼn bediende in Groenkloof, Pretoria, glo met ʼn speelgoedgeweer aangehou en die huis beroof het. Die verdagtes kan glo verbind word aan verskeie inbrake in en om Pretoria, het die polisie Donderdag gesê.

Lt.genl. Solomon Makgale, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die twee mans het Dinsdag juwele, ʼn televisie, kameratoerusting, skootrekenaars en ander rekenaartoerusting gesteel, waarna hulle in die familie se Toyota Prado gevlug het. Die voertuig is later verlate in Brooklyn opgespoor.

Volgens Makgale is die eerste verdagte, ʼn 32-jarige man, kort daarna vasgetrek ná ʼn hoëspoedjaagtog in die noorde van Pretoria nadat hy ʼn Ford gesteel het. Inbraaktoerusting en ʼn balaklawa is in sy besit gevind.

“Die polisie het die man na sy huis in Amandasig vergesel waar die polisie beslag gelê het op ʼn televisie, videospeletjies, ʼn groot verskeidenheid juwele, ʼn kluis wat oopforseer is, ʼn Rolex-horlosie en verskeie ander horlosies, iPads, selfone en ʼn hoëtroustel,” het Makgale gesê.

Die man het die polisie na die tweede verdagte, ʼn 25-jarige man, gelei wat by ʼn karwasplek in Mamelodi aangekeer is. ʼn Speelgoedgeweer, wat glo tydens die rooftogte gebruik is, is in sy besit gevind.

Die mans moet binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.