Spesiale DStv-kanaal vir Oscar Pistorius-moordverhoor

Oscar Pistorius Foto: Werner Beukes/SAPA

Oscar Pistorius Foto: Werner Beukes/SAPA

MultiChoice het Woensdag aangekondig dat hulle vroeg in Maart ʼn 24-uur DStv-kanaal gaan bekendstel wat dekking gaan bied aan Oscar Pistorius se moordverhoor.

Pistorius se moordverhoor begin op 3 Maart. Hy word daarvan verdink dat hy sy meisie, die model Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar, in die badkamer van sy huis in die ooste van Pretoria doodgeskiet het. Pistorius voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien.

Die kanaal sal op 2 Maart beskikbaar wees op kanaal 199. Die kanaal staan bekend as The Oscar Pistorius Trial: A Carte Blanche Channel en dit gaan ook eksklusiewe dokumentêre en in-diepte analise van kenners uitsaai. Die vervaardigers van Carte Blanche behartig die kanaal. Dit is die eerste keer wat MultiChoice ʼn spesiale kanaal skep vir ʼn groot nuusgebeurtenis.

“Die spesiale kanaal sal in-diepte dekking oor die verhoor en ʼn verskeidenheid van ander inhoud daaroor aan ons kykers verskaf, met sosialemedia-integrasie,” het Aletta Alberts, MultiChoice se hoof van inhoud, gesê.

Pistorius se moordverhoor gaan na verwagting tot 20 Maart voortduur. Die regter sal nader aan die tyd bekend maak of enige regstreekse uitsendings tydens die verhoor mag plaasvind.

Die kanaal gaan slegs vir DStv Premium-, Extra- en Compact-kliënte beskikbaar wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ina ·

Hoekom ? Hy het net 1 persoon vermoedelik vermoor .. ?? is dit nou geld maak storie of net pure opswepery of sensasie soek ??? As hulle dit doen hoekom nie oor elke persoon wat moord pleeg nie ?? Aikona dis nie ‘n sirkus nie en uiters onregverdig ,, maar ja mense soek sensasie en kan mos nie leef sonder drama nie ..

Mina ·

Wel ek is een van die mense wat dit sal kyk. Ek vind die saak baie intersant en sal daarvan hou om alles teweet wat tewete is. Dieselfde met Die Griekwas Stad Moorde, sal nogals daarvan hou om dit ook so tevolg. Almal het hul eie menings en is geregtig om hul menings telig. As jy nie belangstel nie, het jy nie nodig om daarna tekyk nie. Dit is tog net een kanaal, anders as Mandela se dood kon jy niks anders kyk sonder om sy gesig tesien nie.

Engela ·

Ag shame man! Daar is nou wel ‘n moontlikheid dat hy skuldig is maar sjoe dit moet regtig vir hom nie maklik wees nie. Ek is nie ‘n geweldadige mens nie maar wie van ons kan sê “Dit sal nooit met my gebeur nie”?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.