Spoedvraat jaag glo met sy pa se kar rond

Argieffoto

ʼn 26-jarige man staar onder andere ʼn klag van poging tot moord in die gesig nadat hy Woensdag glo van metropolisiebeamptes in Floridapark, Johannesburg, weggejaag het.

“Die man is afgetrek nadat hy teen 94km/h in ʼn 60km/h-sone naby Montgomerypark gejaag het,” het Wayne Minnaar, hoof superintendent van die metropolisie in Johannesburg, gesê. “Hy het nie gestop nie, en wou wegjaag, en het toe amper ʼn metropolisiebeampte raakgery.”

Volgens Minnaar het die spoedkamera ʼn foto geneem van die silwer BMW se nommerplaat. “Die voertuig behoort aan die man se pa, wat verras was toe beamptes by sy huis opgedaag het. Hy het verduidelik dat sy seun Woensdag met die motor rondgery het,” het Minnaar bygevoeg.

Die man is Donderdag in hegtenis geneem en staar klagtes van poging tot moord, dwarsboming van die gereg, en roekelose of nalatige bestuur in die gesig. Hy sal binnekort in die landdroshof in Sophiatown verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.