Spoedvrate elk met R20 000 beboet

Twee mans is elk R20 000 beboet nadat hulle die spoedgrens in KwaZulu-Natal die afgelope naweek verbreek het.

“Dit sal ‘n duidelike boodskap aan alle oortreders stuur dat ons ernstig is om die wet toe te pas,” het Willies Mchunu, LUR van die departement van vervoer, gesê. Volgens Mchunu is dit ‘n bewys dat die metrobeamptes hul plig uitvoer en hy het die landdroshof in Scottburgh geloof vir hul “goeie werk”.

Kareel Dukhi (29) is Sondag ‘n boete van R20 000 of agt jaar tronkstraf opgelê nadat hy teen sowat 205 km/h in ‘n 120 km/h-sone in Ellingham, naby Park Rynie, met sy Mitsubishi gery het, het Kwanele Ncalane, Mchunu se woordvoerder, gesê.

Mohamed Mogalia (41) is Maandag ‘n boete van R20 000 of agt jaar tronkstraf opgelê nadat hy teen 202 km/h op dieselfde pad gery het.

Nog ‘n motoris is Saterdag teen 182 km/h afgetrek en hy is met R8 000 of vier jaar tronkstraf beboet. ‘n Motoris wat Saterdag teen 194 km/h op die N2 gejaag het, is ‘n boete van R14 000 of vier jaar tronkstraf opgelê. Dié motoriste se name is nie dadelik beskikbaar nie.

Mchunu sê die boetes sal motoriste aanmoedig om wetsgehoorsaam te wees. “Ons is optimisties dat ons benadering padongelukke sal laat afneem. Dit is onaanvaarbaar dat mense teen 202 km/h of teen 205 km/h ry,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.