ʼn 33-jarige man van Oranjeville in die Vrystaat is in hegtenis geneem op 16 aanklagte wat verband hou met die verkragting van minderjarige seuns.
Sellwane Mapamela, woordvoerder van die polisie, sê die man is Dinsdag in hegtenis geneem en aangekla en sal binnekort in die Heilbron-landdroshof verskyn. Mapamela sê die man se arrestasie kom nadat die polisie klagtes ontvang het van ʼn skool in Oranjeville.
Na ʼn ondersoek is daar vasgestel dat minstens 16 seuns bewerings van verkragting teen die sportafrigter gemaak het. Daar word beweer dat die afrigter sportkampe gehou het en van die seuns seksueel aangerand het na oefensessies. Mapemela sê die man het sy beweerde slagoffers, almal tussen 13 en 16 jaar oud, glo met die dood gedreig indien hulle iets sou sê. -SAPA