Sportjoernalis publiseer selfmoordwebwerf; kaart na versteekte goudskat

Martin Manley

Martin Manley, ‘n bekende sportskrywer van Kansas in Amerika het Donderdag op sy 60ste verjaarsdag selfmoord gepleeg en ‘n webwerf voorberei waarin hy die redes vir sy selfmoord uiteensit, tesame met ‘n skattejag-kaart waar goud glo begrawe is.

Manley het sy eie blog gehad, Sports in Review, en het ook drie boeke oor sport geskryf. Hy het ook as redakteur by die Kansas City Star gewerk. Op sy 60ste verjaarsdag, op 15 Augustus, het hy sy eie selfmoord aangekondig deur ‘n webwerf, genaamd “Martin Manley: My lewe en afsterwe” te aktiveer. [Die oorspronklike webwerf is intussen verwyder, maar die inligting is steeds op die skakel beskikbaar.]

Vandag is 15 Augustus 2013. Vandag is my 60ste verjaarsdag. Vandag is die laaste dag van my lewe. Ek het selfmoord gepleeg. Vandag is die eerste dag wat dié webwerf lewendig is, maar dit sal jare lank nog hier wees,” is die openingsparagraaf op die webwerf.

Die webwerf bevat meer as 40 subkategorieë waar Manley onderwerpe aanspreek soos “Hoekom selfmoord?”, “Hoekom ouderdom 60?”, “Grootwordjare”, “Eerste twee liefdes”, “Foto’s”, “911 en komplotte”, “Cool goed” en selfs “Selfmoord – hoe?”.

Manley het egter ook ‘n skattejag met GPS-koördinate in die webwerf versteek waar hy glo goud en silwer wat duisende dollar werd is, begrawe het. “Ek het geen geldelike probleme gehad nie. Ek het my huis, wat heeltemal afbetaal was, in 1998 verkoop. Ek het dieselfde jaar goue muntstukke ter waarde van $30 000 en silwer muntstukke van voor 1965 aangekoop. Goud was $300/ons toe ek dit aangeskaf het en silwer was $4/ons. Goud het intussen na $1 700 en silwer na $44 toegeneem. My skat is dus meer as $200 000 werd,” het Manley geskryf. Hy het toe die koördinate, 38.800542, -94.687884 aangegee. Dit lei na ‘n voetpad op die punt van Arboretum-park.

Overland Park is só oorval dat hulle ‘n kennisgewing moes opsit waarin hulle verklaar dat daar geen versteekte goud is nie. “Daar is geen skat nie. Daar was ‘n groot skattejag vanoggend. Polisiebeamptes van Overland Park het met die familie van die slagoffer gepraat en hulle het aangedui dat hy wel goud aangekoop het, maar dit weggegee het. Die vermeende “versteekte skat” is ‘n foefie. Neem asseblief hiervan kennis en dat niemand by die Overland Park Arboretum mag grawe nie.”

Die Kansas City Star het berig dat die polisie van Overland Park Manley se selfmoord bevestig het. “Martin was ‘n wonderlike ou en ‘n goeie werknemer,” het Mike Fannin, die koerant se redakteur, gesê. “Dit is ‘n skok en ‘n ongelooflike tragedie.”

Manley het homself Donderdagoggend doodgeskiet.
‘n Video wat meer oor die goud-skat vertel volg onderaan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.