Sportsterre van die Jaar aangewys

Chad le Clos in ‘n speelse bui by die toekenningseremonie Foto: www.sasportsawards.com

Chad le Clos, die Olimpiese swemmer, is Sondagaand in Johannesburg as Suid-Afrikaanse Sportster van die Jaar aangewys.

“Ons sporthelde is ons Nasie se trots,” het Fikile Mbalula, minister van sport en ontspanning, gesê.

Die 20-jarige Le Clos het by die SA Sporttoekennings-funksie met die louere weggestap en die 2011-wenner, krieketspeler Hashim Amla, Natalie du Toit en Cameron van der Burgh (swem), Caster Semenya en Oscar Pistorius (atletiek), Siyabonga Nomvete (sokker) en Vernon Philander (krieket) uitgestof. Le Clos was ‘n oornagsensasie toe hy ‘n goue medalje in die 200m-vlinderslagitem voor Michael Phelps by die Olimpiese Spele in 2012 opgeraap het.

Krieketspeler Vernon Philander het die Sportman van die Jaar-toekenning ontvang nadat hy die tweede vinnigste man in die geskiedenis van krieket geword het om 50 paaltjies te laat val. Roei Suid-Afrika was een van die aand se grootste wenners en het drie toekennings ontvang met president Wimpie du Plessis wat as Administrateur van die Jaar aangewys is. Die roeispan, Sizwe Ndlovu, Matthew Britain, John Smith en James Thompson, wat by die Olimpiese Spele ‘n goue medalje ingepalm het, het die Span van die Jaar-toekenning ontvang.

Caster Semenya, wat by die Olimpiese Spele die land se enigste medalje in die baan- en velditems losgeslaan het deur ‘n silwer medalje in die 800m te behaal, is as Sportvrou van die Jaar aangewys.

Banyana Banyana se Joseph Mkhonza is as Afrigter van die Jaar aangewys. Hy het die Suid-Afrikaanse vroue sokkerspan tot hul eerste Olimpiese Spele gelei, maar hulle kon egter nie na die groepsfase deurdring nie.

Natalie du Toit, die paralimpiese atleet, is as die Sportvrou van die Jaar met ‘n Gestremdheid aangewys. Sy het by die Paralimpiese Spele in Londen uitgetree, nadat sy 13 goue en twee silwer medaljes by paralimpiese kompetisies ingeoes het.

Oscar Pistorius is as Sportman van die Jaar met ‘n Gestremdheid aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.