Springbokke klop Samoa vir plek in kwarteindronde

Die Springbokke het Samoa in hul Groep D-wedstryd by die North Harbour-stadion in Auckland met 13-5 geklop om deur te dring na die kwarteindronde van die wêreldbeker.

Die Bokke het vinnig momentum opgetel met Bryan Habana wat in die eerste tien minute van die wedstryd oor die doellyn geduik het. Morné Steyn het die telling teen rustyd na 13-0 opgestoot met ʼn doelskop en twee strafskoppe. George Stowers het kort na rustyd vir Samoa ʼn drie aangeteken. John Smit het sowat twee minute se speeltyd gehad nadat hy in die 69ste minuut van die wedstryd op die veld gekom het en ʼn geel kaart gekry het. Smith het die bal probeer onderskep maar volgens die skeidsregter het hy ‘n aangee afgeklap. Die wedstryd het ook die eerste rooi kaart opgelewer in die toernooi toe Paul Williams van Samoa vir Heinrich Brussow deur die gesig geklap het.

Die Springbokke is steeds bo aan die punteleer in Groep D nadat hulle al vier hulle wedstryde gewen het. Die Bokke het in hulle eerste wedstryd met 17-16 gewen teen Wallis. Fidji moes les opsê nadat die Bokke hulle met 49-3 vertrap het. Die Bokke het Namibië met 87-0 vermorsel.

Samoa het in sy eerste wedstryd van die toernooi teen Wallis vasgeval met 17-10. Die span het egter gewys wat in hom steek toe hy sy aartsvyand, Fidji, met 27-7 geklop het. Samoa gaan heel moontlik huis toe na vandag se terugslag teen die Springbokke. Indien Fidji egter daarin slaag om Sondag met Wallis af te reken kan die prentjie verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.