St Francisbaai: Versekeringseise stroom in

Foto: Twitter

Versekeringseise stroom in ná ʼn brand Sondagaand by St Francisbaai uitgebreek het.

Ten minste 76 huise, woonstelle en kantoorspasie is in die brand beskadig of verwoes. Niemand is beseer nie, maar die herstelkoste kan tot honderd miljoene rand beloop, berig EWN. Ten minste 12 gesinne is nou dakloos.

Brandbestryders kon vroeg Maandagoggend uiteindelik die vlamme blus.

Sommige inwoners het reeds met hul versekeringsmaatskappye in verbinding getree. Collin Mchunu, woordvoerder van Alexander Forbes, het gesê hulle het reeds multimiljoenrandse eise ontvang. “Ons het sowat 98 kliënte wat in die omgewing deur die brand beïnvloed kan wees. Sewe van dié kliënte het ons reeds gekontak en die eise beloop reeds R20 miljoen,” het Mchunu gesê. Volgens Mchunu sal die maatskappy die kostes dek van diegene wat ʼn huurinkomste weens die brand verloor. “Die huur werk gewoonlik op ʼn basis van ʼn persentasie uit. Indien die kliënt huurders het, sal hulle nou nie meer blyplek hê nie. Ons sal dié persone kan bystaan wat daarvoor verseker is.”

Nog ʼn versekeringsmaatskappy het binne 12 uur van die ramp eise van meer as R30 miljoen ontvang.

Intussen weier beamptes van die Kouga-munisipaliteit om die oorsaak van die brand te bevestig. Plaaslike inwoners beweer die brand het weens ʼn braaivleisvuur by die Royal Wharf-ontwikkeling ontstaan.

Beamptes sê dit is nie duidelik hoe die verwoestende brand uitgebreek het nie. Hulle erken dat daar talle gerugte is, maar dat daar geen bewyse is nie.

Brandkenners van die munisipaliteit werk nou saam met die Oos-Kaapse forensiese eenheid. Hulle het Maandagoggend reeds tussen die oorblyfsels vir leidrade begin soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.