“Staak die gegiggel,” sê hof

'n Man demonstreer die "laggende leeu" Foto: Andrew Brukman

‘n “Lagjoga”-klub in Mumbai is aangesê om die gegiggel te staak nadat ongelukkige bure daaroor gekla het.

Die hooggeregshof in Bombay het polisie beveel om die lagjoga-klub toe te maak nadat die 78-jarige Vinayak Shirsat gekla het dat dit “geestelike angs, pyn en ‘n openbare oorlas” veroorsaak, het AFP Dinsdag berig. “Dit is nie reg om buite iemand anders se huis byeen te kom en te lag nie,” het die regters gesê.

Luidens Shirsat se versoekskrif vergader tussen 10 en 15 lede van die groep omstreeks 07:00 in die oggend om te sing, hande te klap en lag hulle “kliphard en aanhoudend”.

“Hulle lag kliphard, elke lid moedig die ander aan om so veel as moontlik te lag,” het die klaer gesê.

Lagjoga is in 1995 deur die Indiese dokter, Madan Kataria, in Mumbai bekendgestel. Volgens Kataria lei ‘n gelag tot fisiologiese voordele. Lagklubs, waar lede uitbundig saamlag is in talle stede wêreldwyd gewild.

Die hof het die polisie Maandag ‘n week lank gegee om die regters in kennis te stel hoe hulle die klub gaan verbied om probleme te veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.