Staat eis lewenslank vir ma wat seun verkrag

Argieffoto

Argieffoto

‘n Ma van Bloemfontein wat skuldig bevind is dat sy haar tienerseun herhaaldelik verkrag het moet lewenslange tronkstraf kry, het die Bloemfonteinse hof vir seksuele misdrywe Woensdag gehoor.

Landdros Jan Greyvenstein het Woensdag betoë aangehoor voor sy vonnisoplegging van die vrou wat haar seun herhaaldelik tussen 11- en 17-jarige ouderdom verkrag het.

Louis York, staatsaanklaer, het aan die hof gesê dat dit een van die moeilikste sake is om ʼn vonnis voor op te lê. “Die staat stem saam dat die ma sielkundige probleme het. Sy het ʼn moeilike kinderlewe gehad, maar sy het die keuse gehad of sy haar seun daarvoor wou laat geld,” het York gesê.

Die ma (51) is Maandag skuldig bevind aan die verkragting van haar seun. In haar verklaring het sy erken dat sy haar tienerseun van Desember 2007 tot Januarie vanjaar verkrag het.

Die staat voer aan die feit dat die misdaad oor ʼn hele paar jaar binne ‘n hegte familiekring gepleeg is, enige versagtende aspekte oortref.

“Ek voel jammer vir haar, net soos ander mense, maar die tipe misdaad moet ernstig opgeneem word, selfs vir eerste oortreders. Ons vra dus vir lewenslange tronkstraf.”

York het ook gesê haar naam moet op die lys vir seksuele oortreders geregistreer word.

Die vrou, met grys skouerlengte hare, het die meeste van die tyd tydens die vonnisoplegging na haar hande gestaar. Sy het ook elke nou en dan haar gesig met ʼn snesie afgevee.

Die hof het vroeër aangehoor dat sy self vir bykans 40 jaar lank deur vriende en familielede verkrag is en dat sy eintlik ook ʼn slagoffer is.

York het egter gesê dit het ‘n tendens geword in sulke gevalle dat oortreders argumenteer dat hulle soortgelyke slagoffers was en daarom dieselfde aan iemand anders gedoen het.

“Dit wat met haar gebeur het kan nie as verskoning gebruik word vir dit wat aan die seun gedoen is nie.”

Hy sê dit dien as ʼn argument ter verswaring van die vonnis, aangesien die ma geweet het wat die gevolge van haar misbruik sou wees.

Die staat hou vol daar is niks meer afstootlik vir die algemene publiek as ‘n ouer wat seks met hul eie kind het nie.

Themba Diba, die ma se prokureur, het op sy beurt ter versagting van die vonnis gesê die vrou het skuld erken wat ʼn teken van berou is. Diba het die hof versoek om haar nie tot lewenslange tronkstraf te vonnis nie en dat sy nie “gekruisig” moet word vir alle ernstige seksuele misdrywe nie.

Hy het aangevoer dat beide die ma en die seun ernstige hulp benodig en hy het voorgestel dat ‘n kort tronkstraf opgelê moet word met korrektiewe toesig.

Die saak is uitgestel tot volgende Woensdag.

Lees ook:
Bloem-ma wat seun verkrag is self mishandel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ELIZE MANS ·

Wat sal n mens nog hoor.Hoe kry n Ma dit reg,om seks met haar eie kind te he.
Nee ,ek is stom geslaan.Die duiwel neem oor in die wereld.

Amy ·

Dis sal ‘n goeie vonnis wees.En ek weet van mense wat mishandel en verkrag is as kind en tiener, en hulle gee vir hul kinders net liefde. Om mishandeling en verkragting (as kind) te gebruik, is nie goed genoeg verskoning nie.

Leandri ·

Ag strond man, sy moet in die tronk sit. Daar is geen verskoning vir so iets nie. Watse ma is sy, daai kind het sy ma nodig gehad en dis wat sy doen. Dis siek, 51 jaar oud wat haar kind verkrag!! Gee haar ‘n damn borsel laat sy krap waar dit juk!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.