Staat staan steeds Pelgrimsrus kleinsake teen

Pelgrimsrus

Pelgrimsrus

AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, het Woensdag gesê dat die Mpumalanga Provinsiale Regering steeds ʼn veldtog voortsit om die sakegemeenskap van Pelgrimsrus uit dié museumdorpie te dryf. Dít volg nadat die regering opponering aangeteken het in ʼn aansoek om ʼn bestaande interdik te verleng teen die eensydige opskorting van die Pelgrimsrus sake-eienaars se huurkontrakte.

AfriSake, wat regshulp aan die Pelgrimsrus sake-gemeenskap voorsien, sê dat die aansoek aanvanklik vir 9 Desember 2013 op die onbestrede hofrol geplaas is, maar weens die regering se teenstand nou eers vroeg in 2014 voor die hof sal wees.

Besigheidseienaars in Pelgrimsrus is twee jaar gelede deur die departement van openbare werke ingelig dat hul kontrakte vir die huur van persele in die dorp eensydig beëindig word. ʼn Aanvanklike hofaansoek in Julie 2012 vir ʼn tussentydse interdik teen die dreigende uitsetting het geslaag en die hof het gelas dat onder meer alle dokumentasie wat verband hou met die tenderproses beskikbaar gestel moet word. “Meer as 18 maande later word daar steeds nie aan hierdie vereiste voldoen nie, daarom is dit nodig vir ons om weereens die hof te nader en die bestaande interdik te verleng,” het Jansen van Rensburg gesê.

Sedert die ooglopende korrupte tenderproses van die provinsiale regering in die nuus beland het, is toerisme in Pelgrimsrus geknou. Winkeleienaars én hul werkers se inkomste word bedreig, iets waarvoor slegs die regering verantwoordelikheid kan aanvaar. Volgens Jansen van Rensburg wil dit voorkom asof die Mpumalanga Regering die saak so lank moontlik wil uitrek in die hoop dat die mense van Pelgrimsrus sal moed opgee. AfriSake het by besoek aan die dorp en na gesprekke met gemeenskapsleiers egter die organisasie se voortgesette steun belowe.

“Die Pelgrimsrus-saak is tekenend van ʼn groeiende arrogansie onder staatsamptenare wat bereid is om selfs ʼn dorp se ekonomie te skaad indien daar moontlik selfverryking en onregmatige bevoordeling kan plaasvind,” het Jansen van Rensburg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henko ·

Met die laaste paragraaf van hierdie berig kan ek 100% saamstem. Wat eens ‘n pragtige dorpie was en ‘n voorreg om te besoek, lyk seker nou al soos ‘n nes. Is hier enigiemand wat onlangs daar was?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.