Staat vra lewenslank ná aftreeoord-moord

(Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die staat meen dit is nie genoeg dat Tersius du Plessis berou toon vir die moord op die 86-jarige Johanna Rossouw nie. Du Plessis het uit “gierigheid” opgetree toe hy ’n “brose” bejaarde “gewelddadig” in haar huis vermoor het en daarvoor behoort hy ook lewenslank tronk toe gestuur te word, sê staatsaanklaer Derek Rowles.

Rowles het Donderdagoggend in die hooggeregshof op Middelburg, Mpumalanga, gevra dat Du Plessis (36) ’n minimum vonnis van 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede opgelê word sowel as ’n lewenslange vonnis vir die moord op Rossouw.

Du Plessis het in reaksie op dié versoek sy kop in die beskuldigdebank laat sak. Hy het Woensdag skuldig gepleit op albei dié aanklagte en Rossouw se familie om verskoning gevra “vir wat hy aan hulle gedoen het”.

Die verdediging het gevolglik by die hof gepleit om Du Plessis genadig te wees en nié ’n lewenslange vonnis op te lê nie aangesien hy dadelik skuld erken het, opregte berou toon vir sy dade en volle verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.

Die staat hou egter vol “rehabilitasie moet ’n tree terugstaan terwyl vergelding na vore moet tree”.

Rowles het vanoggend as deel van die staat se vertoë daarop gewys dat Rossouw nié net ’n weerlose bejaarde was nie, maar ook nóg ’n vrou wat vermoor is terwyl geslagsgeweld in Suid-Afrika hoogty vier.

Hy het ook gesê dit is duidelik uit die nadoodse ondersoek dat Rossouw uiters gewelddadig vermoor is. Die bejaarde is 28 keer met ’n mes by haar huis in die Eden Park-aftreeoord in Emalahleni (Witbank) gesteek. Haar hande was reeds vasgebind toe sy vermoor is.

“Dit is tekenend van die uiters hoë vlak van geweld wat op ’n 86-jarige persoon toegepas is wat klein en broos was,” het Rowles gesê. “Dit is ook duidelik dat die moord onnodig was aangesien die oorledene nie teen die beskuldigde kon terugbaklei nie. Die beskuldigde kon ook nie aan die hof verduidelik hoekom hy tot soveel geweld oorgegaan het nie.”

Maroela Media het vroeër berig Du Plessis het in sy skulderkenning gesê hy het nie geweet iemand is tuis toe hy op 31 Januarie by Rossouw se huis in Fuchsiastraat ingebreek het nie. Hy het Rossouw nie geken nie en was bloot op soek na waardevolle items om te verkoop nadat hy sy geld en selfoon weggedobbel het.

Du Plessis het by die huis ingesluip, maar is deur Rossouw verras en gekonfronteer. Hy het haar oorval en aangesê om stil te bly. Sy het egter geskree waarna hy ’n mes in die huis gegryp en haar verskeie kere in die nek en bolyf gesteek het.

Du Plessis het daarna in die oorledene se motor op die vlug geslaan voordat hy hom later in Gauteng aan die polisie oorgegee het.

Volgens Rowles behoort die hof die hoë vlakke van moord en roof met verswarende omstandighede in Suid-Afrika in ag te neem wanneer oor ’n gepaste vonnis vir Du Plessis besluit word. Die hof behoort ook ’n boodskap aan die samelewing te stuur dat dié oortredings nie langer geduld sal word nie, sê Rowles.

Hy het ook op die diepgaande impak gewys wat die moord op die oorledene se familie gehad het. “Daar bestaan geen twyfel daaroor nie dat dit ’n uiters traumatiese voorval vir die familie was.”

Die regter het vanoggend gesê die vonnis van ’n oortreder is die moeilikste deel van ’n verhoor en vir tyd gevra om al die argumente te oorweeg.

Du Plessis sal Vrydagoggend gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Blomme

Hoe onmenslik. Watter ordentlike mens kry dit reg om ń weerlose bejaarde so wreed aan te val. Die mens het regtig mal geword!

Nettie

Ja sluit hom lewenslank toe gooi die sleutels weg. Om n bejaarde oumensie wat 86 jaar oud is so wreed te vermoor wat skadeloos was vir jou. Hoekom haar vermoor dis so wreed.

Rooikoos

Die “gooi die sleutels weg” is al so holrug gery.

Toy

Nou het hy berou, hy het ‘n keuse gehad om nie die tannie te vermoor nie.

melaney

Ek wens “lewenslank” was inderdaad “lewenslank”. Dit sou beteken dat iemand wat so ‘n gruweldaad pleeg, nooit weer die ‘exit’ van die tronk sal sien nie.